Oud-Tukkie en TV-ster stel boek bekend
'n Oud-dramastudent van Tuks en aktrise in die gewilde TV-reeks 7de Laan, het onlangs haar eerste boek in Moreletapark vrygestel.
Aktrise Adriana Faling, wat die rol van Irma Theunissen in 7de Laan vertolk en ook bekend is vir ‘n Egoli-rol, het onlangs haar debuut as skrywer gemaak.
Haar roman, Rewolusie van die Hart, wat onlangs in Moreletapark bekendgestel is, vertel ‘n aangrypende en aktuele verhaal oor die vervolging van Christen-bekeerlinge in Egipte, teen die agtergrond van die Arabiese Lente. Die storie oor twee vroue speel deels in Egipte en deels in Suid-Afrika af. Dit beskryf die uitdagings van ‘n vroue bekeerling en ‘n sendeling se vrou.
Faling en haar man is betrokke by sendelingwerk in verskeie lande. ‘n Groot deel van die navorsing vir die boek het sy tydens hul besoek aan Egipte gedoen.
Voor haar bekendheid in die sepiewêreld het Faling drama aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Hier het sy ‘n reeks toekennings vir vertolkings in verskeie studente-produksies ontvang. In haar derde jaar het sy reeds as Tessa in Egoli verskyn en is vir haar werk bekroon.
Sy het ook verskeie toekennings vir ‘n aantal kortverhale ontvang.
Uitgewers Lux Verbi beskryf Adriana as ‘n ‘briljante nuwe skrywer’ en haar roman as ‘hierdie winter se mees-inspirerende, genotvolle en boeiende boek’.
Vir meer nuus, volg Rekord op Twitter of besoek ons op Facebook.
