
Planne van die Tshwane metro om Pretoria se opgeknapte stadsaal moontlik na Marthinus Pretorius, die stigter van die hoofstad te verdoop, is gister wyd verwelkom deur kultuurorganisasies, burgerregte organisasies, historici, en politieke partye.
Sommige kultuurleiers en historici vrees egter die moontlike herbenaming is dalk ‘n politieke maneuver om ‘n klimaat te skep om die stad Pretoria na Tshwane te herdoop.
Dr Danie Langner, hoofbestuurder van die FAK , verwelkom die moontlikheid dat die stadsaal na Pretorius vernoem kan word.
“Ons sien dit as positiewe nuus dat so iets kan gebeur. Ons dink elke kultuur-gemeenskap se kultuurerfenis het ‘n bepaalde en regmatige plek en dit is goed dat Pretorius op die manier onthou word. Aan die anderkant moet dit nie as ‘n skuiwergat gebruik word om Pretoria se naam weer onder druk te plaas nie.”
Kallie Kriel, hoof van AfriForum en kampvegter vir die behoud van Pretoria se naam, het naamplanne as ‘n edel stap bestempel waarvoor daar groot waardering is.
“Ons verwelkom dit dat die ANC die ontstaan-geskiedenis van Pretoria en Pretorius die skepper van Pretoria nou erken. Die erkenning moet egter nie die milieu skep om weer Pretoria se naam te wil verander nie,” sê hy.
Prof. Jackie Grobler, geskiedenis-dosent aan die Universiteit van Pretoria en skrywer van die boek Monumentale Erfenis, beskou die moontlike naamgee van die stadsaal as baie positiewe nuus.
’‘n Mens moet waardering daarvoor hê. Dit skep nie ‘n goeie indruk om die gebaar summier te wantrou nie hoewel ek begrip het waarom dit kan gebeur. Dit is nie ‘n gee-en-neem-aksie nie. Daarom moet ‘n mens nie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie,” sê hy.
Die opknappingswerk van die stadsaal het in April vanjaar begin en sal met die finale voltooiing daarvan na beraming meer as R35 miljoen kos. Na die opknapping sal die stadsaal-gebou diens doen as die kantore vir die burgemeester en sy uitvoerende bestuur.
Blessing Manale, woordvoerder van burgemeester Kgosientso Ramokgopa, sê die verval van die stadsaal het die burgemeester genoop om die opkikkering van die gebou ‘n prioriteitsprojek te maak. Op die oomblik werk kontrakteurs aan die hoofsaal, wat sitplek aan sowat 2 200 mense bied.
“Die erfenis van die Afrikaner is vir ons ook belangrik en die burgemeester het gesê hy wil nie ‘n verdeelde stad lei nie. Die stadsaal het ‘n ryk kulturele geskiedenis en die stadsaal se orrel, wat een van die land se waardevolste kulturele erfstukke is, is vir die stad baie belangrik. Die fout met die pype se bedrading moet nog reggemaak word.”
Manale bestempel die regmaak van die stadsaal as ‘n uitreikingsgebaar van die ANC na die Afrikaanse gemeenskap.
“Ons is besig om te besin oor wat ‘n nasionale identiteit werklik beteken en daarom kan die opknapping ook gesien word as ‘n gebaar wat daarop dui dat minderheidsgroepe en die Afrikaner vir ons belangrik is,” sê Manale.
“Die burgemeester sal na verwagting einde Oktober sy intrek kan neem. Die hele kantoor van die burgemeester word verskuif. Uitvoerende hoofde van departemente, media en openbare betrekkinge, protokol en seremonies, inter-regering en internasionale betrekkinge, en spesiale belangegroepe sal ook almal kantore in die gebou hê.”
Dit behels sowat 40 personeellede.
“Die opknappingsplanne behels die hermeubilering van kantoor-suites, netwerk-installering, sekuriteit, kragbesparende beligting, opknapping van die tuine, hoofsaal ,eetsaal en die mediasentrum,” sê Manale in ‘n persverklaring.
Verskeie oproepe gister na die metro om uit te vind of die naamverandering van Pretoria na Tshwane eersdaags weer onder bespreking sal kom, het onbeantwoord gebly.
Die stadsaal se besondere belang vir die stad is dat dit met die voltooiing daarvan in 1931, Pretoria (met die naam Pretoria) amptelike stadstatus gegee het. Die stadsaal met sy 47 meter hoë koepel is in tipiese Renaissance styl gebou. Die argitek was ene M Lockwood-Hall.
Die orrel in die saal is een van die mees gevorderde in die wêreld en is in samewerking met die argitek geïnstalleer om die maksimum akoestiese voordeel te kry. Die instrument het meer as 6 000 pype met meer as 100 000 elektriese kontakpunte.
Die orrrel is gehuisves in ses verskillende vertrekke. Ewe imposant is die kandelaar in die hoofsaal wat sowat 3.5 ton weeg. Die plafon is spesiaal versterk om die gewig te dra.
Die kroonlys bo op die voorportaal — ontwerp deur Coert Steynberg — weerspieël die geskiedenis van Pretoria met die stadswapen sentraal in die uitbeelding. Op die wapen is ‘n koedoe en ‘n eland as simbole van die twee plase waarop Pretoria ontstaan het – Koedoespoort en Elandspoort.
Vir meer nuus en opvolge, volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.
