Vrou (71) naby Boschkop aangehou en beroof
'n Bejaarde vrou was verlede week op 'n kleinhoewe in die Boschkop-omgewing aangehou en beroof.
Drie rowers wat verlede week ‘n bejaarde vrou en haar vriend op ‘n kleinhoewe in Zwavelpoort oorval het, is steeds op vrye voet.
Spokie (71) en Johan (58), wat albei nie hul vanne wil bekendmaak nie, is verlede Woensdag in die vroeë oggendure deur drie booswigte, waarvan minstens een gewapen was, vasgebind en beroof.
Dié aanval is die sesde aanval in die Boschkop-omgewing vanjaar.
Spokie sê sy het omstreeks 03:00 opgestaan om toilet toe te gaan toe ‘n man skielik in die donker voor haar staan.
“Ek het eers gedink dit is Johan se seun wat kom kuier het. Die man het gesê ek moenie ‘n geluid maak nie. Ek het my hand uitgesteek toe hy my arm gryp,” het Spokie gesê.
Intussen het nog ‘n rower Johan wakker gemaak en ‘n pistool teen sy gesig gedruk.
Die twee rowers het Spokie na Johan na die slaapkamer gelei en hulle rug-teen-rug met kabelbinders vasgebind.
“Hulle het gesê hulle sou ons skiet as ons ‘n geraas maak,” het Spokie vertel.
Sy meen hoewel die mans hulle met vuurwapens gedreig het, hulle nie brutaal was nie.
“My bors het in ‘n stadium toegetrek en ek het gesukkel om asem te kry. Een van die rowers het my asmapompie uit my medisynekissie gaan haal en dit in my mond in gespuit sodat ek kon asem kry.”
Die mans het die huis geplunder en vir geld, juwele en vuurwapens gevra.
‘n Skootrekenaar, selfone, ‘n tablet, radio’s en geld is gesteel. Hulle het ook ‘n sakkie met naalde en garing, ‘n strykyster, klere en drank gesteel.
Die rowers het die gesteelde items in Spokie se Toyota Tazz gelaai en gevlug.
Johan het hom losgewikkel, die kabelbinders om Spokie se hande losgeknip en by die buurman om hulp geroep.
“Die Boschkop-polisie was fantasties. Hulle was binne minute daar en het dadelik traumaberading aangebied,” het Spokie gesê.
Die Boschkop-polisie het die voertuig sowat 5km verder gevind. Daar was geen spoor van die booswigte nie.
Spokie het gesê sy was dankbaar vir die polisie en haar Hemelse Vader.
“As jy vrees, gaan op jou knieë en bid om genade,” het sy gesê.
Sy het ook gesê slagoffers moenie braaf probeer wees en ‘n geveg opsit nie, maar eerder die rowers so kalm as moontlik hou en doen wat hulle sê.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
