CrimeLocal newsNews

Vrou se voertuig met klippe bestook

'n Vrou se voertuig is onlangs met klippe in De Villebois Mareuilweg gegooi.

‘n Vrou van Moreletapark was byna die slagoffer van geweld toe haar voertuig onlangs in De Villebois Mareuilweg met klippe bestook is.

Elize Fourie was Saterdagaand omstreeks 19:00 op pad huis toe toe sy skielik ‘n harde slag hoor.

“Ek het verby die Moreleta Gemeente gery toe iets my voertuig tref. Ek het eers nie geweet wat dit kon wees nie, maar ek het geweet ek moenie stilhou nie en eerder huis toe ry,” het Fourie gesê.

“Ek het aangehou ry en sekondes later besef my voertuig is met klippe gegooi.”

Fourie sê het teruggekyk en reuse klippe in die pad sien lê. Sy vermoed die klippe is vanuit die oop veld langs die pad gegooi.

“Ek het eers die skade gesien toe ek by die huis kom. Daar is nou ‘n groot gat langs die deur aan die linkerkant van my voertuig.”

Fourie sê sy is gelukkig die klip het nie haar ruit getref nie.

“Dit was seker bedoel om my windskerm of ruit te tref en die booswigte het seker gehoop ek sou langs die pad stilhou,” het Fourie gesê.

“Die klip was duidelik baie hard gegooi en kon my maklik getref het. Dié straat is beslis nie veilig nie en motoriste moet vermy om saans hier te ry.”

Nóg ‘n inwoner se voertuig is Saterdagaand met klippe bestook.

Die man se vriend, Riaan Niemand, het op die Ek’s van die Ooste-facebookblad gesê die voetuig is in dieselfde straat met bakstene gegooi.

Hy het inwoners teen die straat gewaarsku.

Fourie het ‘n saak by die Garsfontein-polisie aanhangig gemaak.

Adjudant Offisier Dave Miller, polisiewoordvoerder, het gesê motoriste moet altyd waaksaam wees — veral saans en by afgeleë plekke.

“Bly kalm en moenie stilhou nie. Ry eerder na die naaste vulstasie of winkelsentrum en rapporteer die saak aan die polisiestasie,” het Miller gesê.

Motoriste kan ook hul die Garsfontein se sektorvoertuie in ‘n noodgeval bel by:

• Sektor 1 (noord van Lynnwoodweg begrens met Simon Vermootenweg, die N4 snelweg en Meiring Naudéweg): 071-675-6399 en 071-675-6400.

• Sektor 2 (tussen Lynnwood- en Atterburyweg begrens met Solomon Mahlangu en January Masilela): 071-675-6401 and 071-675-6402.

• Sektor 3 (tussen Atterbury- en Garsfonteinweg begrens met January Masilelaweg en die Pretoria Oos begraafplaas) : 071-675-6403 en 071-675-6404.

• Sektor 4 (tussen Garstfonteinweg en die Wingate Golflandgoed begrens met January Masilelaweg: 071-675-6405 en 071-675-6406.

• Garsfontein polisiestasie: 012-470-4200

Vir jou daaglikse nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button