Tshwane-metro gaan Oktobermaand begin om ou asbes-waterpype in Pretoria-Noord te vervang. As deel van fase een word pype tussen Rachel de Beer- en Ben Viljoenstraat opgeknap, sê Demokratiese Alliansie-raadslid Ben Wannenburg.
“Na verskeie klagtes is die stadsraad nou genoodsaak om die ou asbes waterpype in Pretoria-Noord en in ander ou woonbuurtes te vervang. Daar breek of bars nou daagliks tot vier pype in die Pretoria-Noord omgewing. Die verlies aan water en tyd noodsaak die stadsraad om dringend die pype te begin vervang. Die herstel van pype werk nie meer nie aangesien die nuwe koppelstukke nie noodwendig op die ou asbespype pas nie.”
Wannenburg reken die projek behoort drie maande te neem. Daarna sal ander gebiede in Pretoria-Noord dringend aandag kry aangesien dit “krities rooi op die begrotingslys aangeteken is.”
Indien daar enige water- of rioollekkasies of probleme in die Pretoria-Noord-omgewing is, kan dit aangemeld word by die 24-uur inbelsentrum: 012-358-2111/9999 per e-pos by simonmab@tshwane.gov.za en julian@tshwane.gov.za
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook-blad en volg ons op Twitter.
