Koeël tref man in gesig
Bloed stroom man se gesig af nadat koeël hom in wang tref.
Wayne Heenop en Janesque Vorster het albei skraps met hul lewens daarvan afgekom toe ’n koeël deur Vorster se motor se kopstuk getrek het en Heenop in die wang getref is.
Heenop moet Woensdag dié koeël by die Steve Biko Akademiese-hospitaal laat verdwyder nadat dit sy wangbeen vergruis het.
Hy en Vorster, Pretoria Tuine-inwoners, was omstreeks 22:00 Saterdagaand op pad huis toe na hulle Vorster se broer, Jaun-Jacques, by die OR Thambo-lughawe gaan haal het.
Vorster het gesê hulle was net so voor die Irene-afrit op die R21 toe daar ’n skoot van die pad se rigting na hul voertuig afgevuur is. Sy vermoed net een skoot is gevuur.
Die koeël het dwarsdeur die sitplek se kopstuk getrek en Heenop in die wang getref.
“Gelukkig het ons nie afgetrek nie want ek vermoed die rowers sou ons gekaap het. Wayne het net aanhou ry selfs al het hy duiselig geword,” het sy gesê.
Vorster is dankbaar dat die voorval nie erger was nie en sy dank God dat Hy sy hand van beskerming oor hulle gehou het.
“Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek was so geskok,” het sy gesê.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.


