‘Samaritaan’ herstel goed ná steek
Man met mes gesteek nadat hy iemand anders probeer help het.
‘n Man van Pretoria-Wes herstel goed by sy huis nadat hy Sondagoggend drie steke moes kry nadat hy met ‘n groentemes in die bors gesteek is.
Gerhard Smith sê hy is in pyn maar hy herstel goed. “Die jong man het my tussen my hart en long met ‘n groentemes gesteek.”
Volgens Liezel Smith het haar man probeer om die jong man te kalmeer toe hy met die mes gesteek is.
“Ons ken die jong man redelik goed. Sy ouers het om hulp gegroep nadat hy handuit geruk het. My man het gaan help omdat die man glo ‘n sielkundige afwyking het. Gerhard het hom platgeduik en die man het hom met ‘n mes gesteek,” het Smith gesê.
Smith het vertel hy was in sy oprit toe hy die jong man se ma hoor gil. Hy sê hy het gaan help en met die seun gestoei om hom te prober kalmeer maar die volgende oomblik is hy met ‘n mes gesteek.
Liezel Smith het gesê die groentemes het tussen haar man se hart en long ingedring. Omstanders het gehelp om die jong man van Gerhard af te kry. Gerhard is dadelik na die Pretoria-Wes-hospitaal vir mediese behandeling gehaas.
“Hy is nie te ernstig gewond nie, maar het seer. Die jong man se ma het gesê sy sal vir my man se mediese behandeling betaal en goed koop om sy wond skoon te maak,” het Liezel gesê.
Die Pretoria-Wes-polisie het teen 15:00 Sondagmiddag nog nie van die insident geweet nie.
Smith het gesê hy gaan ‘n saak teen die jong man maak.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
Lees ook:
Noue ontkoming vir ‘Samaritaan’


