VIDEO: Vlieënier by vulstasie aangerand
'n Vlieënier van Garsfontein, is onlangs by 'n vulstasie deur 'n jong man aangerand.

Danie Hamman, ‘n 57-jarige vlieënier van Garsfontein, is in die vroeë oggendure voorverlede Saterdag by ‘n vulstasie deur ‘n jong man gewurg en herhaaldelik met die vuis bygedam.
Hamman het omstreeks 03:00 in ‘n vurige woordewisseling met personeel van die geriefswinkel by die Gerhaldo Engen-vulstasie beland omdat die rakke weens ‘n nywerheidstaking byna leeg was.
Nog ‘n man, wat beweer het sy naam is Hendrik Visagie en dat hy mede-eienaar van dié vulstasie (op die hoek van St Bernard Straat en Solomon Mahlangu rylaan) is, het die stryery gehoor en hom vir Hamman vererg.
Hamman was op pad na sy voertuig toe die kwansuise eienaar naderstap en vir die kassiere vra of Hamman moeilikheid soek.
“Hy het gesê ek moet ophou praat anders p*** hy my dood,” het Hamman Woensdag aan Rekord gesê.

“Hy het toe vir die kassiere gevra of hy my moet opf*** en hulle het ja gesê.”
In ‘n opname wat Hamman met sy selfoon geneem het, dreig die man dat hy hom drie sekondes sal gee om hom uit die voete te maak voor hy hom sou slaan.
“Ek gee jou drie sekondes anders p*** ek jou brilletjies in jou oë in,” dreig die man.
Hamman sê die man het begin tel, sy (Hamman) se bril van sy kop afgeruk en hom met die vuis teen die regteroog geslaan.
“Ek het op die grond geval en die man het aangehou om my te slaan en te wurg,” beweer Hamman.
“Hy het ook vir die personeel gesê hulle moet hom bel as ek hulle weer moeilikheid gee sodat hy my behoorlik kan opf***.”
Die man het in ‘n silwer Mercedes-Benz C2-model weggery.
Hamman het verskeie kneusplekke aan sy lyf opgedoen en moes sewe steke aan sy mond en lip kry. Sy tand is ook los van die houe en sy nek is twee weke later nog seer van die wurg.

Tonie Slabbert, bestuurder van die Gerhaldo Engen-vulstasie, sê die eienaars van die vulstasie is twee Vorster-broers en hy is die enigste ander man wat deel van die bestuur is.
Beide eienaars was uitstedig toe die aanval gebeur het.
“Hier werk beslis geen man met die naam Hendrik Visagie nie,” het Slabbert gesê. “Ons weet nie wie die man is nie.”
‘n Saak is by die Garsfontein-polisie aanhangig gemaak. Die polisie ondersoek die voorval, het ao. Dave Miller gesê.
Indien jy enige inligting of nuuswenke het kontak ons gerus op 0724357717 of stuur ‘n epos na editorial@rekord.co.za.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
Kyk ‘n video van dié aanval hieronder. WAARSKUWING: Die video bevat krutaal wat sensitiewe kykers mag onstel.



