Polisie weier glo om saak te ondersoek
Polisie het na bewering geweier om 'n saak teen die jong man wat sy buurman 'n week gelede met 'n mes gesteek, oop te maak.
Die polisie het na bewering geweier om ‘n saak teen die jong man wat sy buurman, Gerhard Smith, verlede Sondag met ‘n mes in die bors gesteek, oop te maak.
Smith het na bewering na die Pretoria-Wes polisie gegaan nadat hy Sondag ná die voorval uit die hospital ontslaan is. Na bewering wil die polisie nie ‘n saak oopmaak nie.
“Ek was verlede week van Sondag tot Donderdag by die polisie om ‘n klag teen die jong man te le. Hulle het vir my gesê as ek ‘n saak maak dit waarskynlik uit die hof gegooi sal word omdat die hof kan sê ek het hom aangerand, want ek het hom op die vloer vasgedruk.”
Smith en sy vrou Liezel is baie ongelukkig oor die saak en is van plan om dit verder te neem om te sien of hulle hulp kan ontvang.
“Ek het met my prokureur gepraat en hy het gesê ek moet al die nodige papierwerk bring om te sien of hy met die saak kan help,” het Smith gesê.
Smith het aan Rekord gesê dat hy probeer het om met die stasiebevelvoerder oor hierdie probleem te praat maar hy is geweier en aangesê om die tweede in bevel te sien. Die het hom na bewering meegedeel dat hulle nie ‘n saak moet oopmaak nie.
Smith het gesê dat hy nie van plan is om dit daar te laat nie. Na die messteek kon hy vir ‘n week nie gaan werk nie.
“Ek herstel goed, maar soms is dit nog steeds seer wanneer ek beweeg. Ek wil dankie sê vir Flip Bosman van Ubuntu Sekuriteit wat my baie gehelp het,” het hy gesê.
Die polisie was nie beskikbaar om kommentaar te lewer op die bewerings nie.
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.
Also read:
Noue ontkoming vir ‘Samaritaan’
‘Samaritaan’ herstel goed ná steek
