EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Egoli se “Bertie” nou in ernstige toestand

Hennie Smit is in 'n ernstige toestand nadat sy ribbe deur sy long gesteek het.

Die akteur Hennie Smit is na die hoësorgeenheid van die Wilgers Hospitaal geskuif nadat ‘n gebreekte rib deur sy long gesteek het.

Charl Senekal, bemarkingsbestuurder van Lefra Produksies, het Donderdag gesê die skade aan Smit long het ernstige komplikasies tot gevolg gehad.

Senekal sê die hospitaal het Smit se toestand as ernstig, maar stabiel beskryf.

Smit was twee weke gelede in die Faerie Glen Hospitaal opgeneem vir dubbele longontsteking, asma en ‘n fraktuur aan sy ribbes wat hy weens die hoesery opgedoen het.

Hy moes gevolglik van sy optredes as Dêda in Lefra Produksies se My Boetie se Sussie se Ou in die Staatsteater misloop en regisseur Frans Swart moes inderhaas inspring om die self dié rol te vertolk.

Swart, wat ook die hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies is, vermoed hy sal dalk nog die rol van Dêda vir die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees van 7-11 Oktober moet speel.

“Maar ons het nog ‘n hele paar speelvakke en Dêda wag vir Hennie – sodra hy uit die hospitaal is.”

Hy sê dié rol is net wat Hennie nodig gehad het nadat Egoli geëindig het en ‘n paar “moeilike jare” daarna gevolg het.

Smit het ‘Bertie’ in dié gewilde sepiereeks gespeel.

“Hy het werklik geblom tydens die produksie die afgelope sewe maande,” sê Swart.

“Smit is ‘n ongelooflike akteur en die rol van Dêda pas hom soos ‘n handskoen. Hy het menige aande staande toejuigings van die gehore ontvang.”

Smit se jarelange vriendin en sangeres, Arina de Witt, staan Hennie by in die hospitaal.

“Ons het onlangs ‘n nuwe toneelstuk, As Drome Vlerke Kry, saam geskryf en beplan ook om dit saam op te voer,” sê De Witt. “Hennie was so opgewonde oor die produksie en ons glo hy sal volkome herstel.”

Senekal sê Hennie is volksbesit en aanhangers wil hom graag besoek. “Dit is egter nie nou moontlik nie aangesien hy in die hoësorgeenheid behandel word,” sê hy.

Swart het onderneem om daagliks ‘n verslag oor Smit se vordering op Lefra se Facebookblad te plaas sodat aanhangers op hoogte kan bly.

Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button