
‘n Baba van Diepsloot is die naweek begrawe nadat sy aan rotbyt-wonde dood is. Gauteng provinsie beleef ‘n rotplaag-ontploffing van die swart dakrot (ratus ratus) en die bruinrot (ratus norwegicum).
Nicolene Nel van Pestmasters plaagbeheerders in Pretoria, het die aanwas van rotte as skrikwekkend groot beskryf.
”Jy kan nie glo hoe die rotbevolking ongelooflik vinnig toegeneem het nie. Namate informele nedersettings groter word groei die rotbevolking ook baie vining aan. Die toestand is daaraan te wyte dat sulke nedersettings die ideale omstandighede skep vir wegkruiplekke, kos en aanteel,” het sy gesê.
Sy het die aanteel ook toegeskryf aan swak higiëniese omstandighede van asblikke wat nie leeggemaak word nie, rommelhope wat ophoop en strukture wat skuiling vir rotte bied.
Rondom Pretoria is 150 informele nedersettings wat onder die Tshwane metro se bestuur val en almal gaan gebuk onder die rotplaag. Inwoners van plakkesrkampe het die bestryding van die plaag al as ‘n verlore saak beskryf. Die metro stadsraad erken openlik dat die verskynsel van steeds nuwe plakkerskampe nie weggewens kan word nie.
Die gevaar van siektes wat met die rotplaag gepaard gaan, is wesentlik. Navorsers vind gereeld builepesdraende vlooie op die swart dakrot. Die laaste uitbreek van builepes was in 1981 by Coega in Oos-Kaap. Een van die grootste builepes-epidemies in Suid-Afrika was in 1901 toe Kaapstad munisipaliteit nagelaat het om die vuil omstandighede in hul informele nedersetting op te ruim. In dié jaar is 371 mense aan builepes dood en is 766 gevalle van mense wat die siekte onder lede gehad het, aangemeld voordat die siekte onder beheer gekry kon word. Die bruinrot is eweneens die draer van virale hemorragiese koors, virale hantavirus, pulmonale sindroom en en virale Weil se siekte.
Ofskoon daar na builepes as ‘n historiese siekte verwys word, is dit volgens wetenskaplikes steeds verantwoordelik vir die dood van 1 000 tot 3 000 mense jaarliks.
Nel het gesê in hul ondervinding van die bestryding van rotte, daar van verskeie middele gebruik gemaak word, maar met die spoed waarmee die rotte aanteel, dit moeilik is om met plaagbeheermiddels by te hou. ‘n Rotpaar teel elke ses weke en tot dertien kleintjies word op ‘n slag gebore. Dit bring die aanwas van een rotpaar op 1 560 kleintjies per jaar.
”Dus, hoe groter Pretoria se informele nedersetting word, hoe groter word die rotplaag. Mense besef eers hoe groot die probleem werklik is wanneer jy self die nedersettings besoek. Sowat 40 000 mense word jaarliks vir rotbyt-wonde behandel, waaronder daar natuurlik ook klein kindertjies is,’’ het sy gesê.
Vir jou daaglikse nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.
