MunicipalNews

Kragonderbrekings kopseer vir Moot inwoners

Die Moot het die laaste tyd verskeie onverklaarbare kragonderbrekings ondervind.

Verskeie kragonderbrekings in die Moot die laaste paar weke dryf inwoners teen die mure uit en die Tshwane-metro het glo geen antwoorde vir die probleem nie.

Dr. Angelique Coetzee, ‘n inwoner van Wonderboom-Suid, is raadop oor die kragonderbrekings wat nie net haar persoonlike lewe nie, maar ook haar besigheid raak.

“Die kragonderbrekings het ernstige komplikasies, want behalwe dat dit ongerieflik is by my huis, waar die vleis in my vrieskas afgaan te danke daaraan, raak dit ook grootliks my praktyk en pasiënte,” het Coetzee gesê.

Coetzee se spreekkamers, wat oorkant haar huis in Wonderboom-Suid is, lei op verskeie maniere onder die kragonderbrekings.

“Dit is ‘n probleem omdat my pasiënte nie deurkom na ons toe nie, want die telefone lui uiters sag as die krag af is. Verder bring dit my pasiënte ingedrang omdat die kragopwekker net genoeg krag vir die rekenaars en my elektriese toerusting verskaf, en ek met die ligte af moet werk.”

Wat ook vir Coetzee ontstel is verskeie bejaardes in die omgewing wat van stuurstofmasjiene afhanklik is en nie sonder krag kan werk nie.

Volgens wyk 54 se raadslid, Elmarie Linde, wissel die grootste oorsake van dié probleem tussen kabeldiefstal in die omgewing en onverklaarbare kragonderbrekings.

“Dit is nie beurtkrag nie en ons sukkel om antwoorde by die metro te kry oor waarom hierdie ‘n herhalende probleem is. Die laaste drie maande se kragonderbrekings in die Wonderboom-Suid- en Mountain View-gebiede is ‘n frustrasie, veral aangesien die kragtoevoer hersteltyd al hoe langer en langer raak soos tyd aangaan,” het Linde gesê.

Nog ‘n probleem, volgens Linde, is dat metrowerkers nie meer vir oortyd vergoed word nie, so dienslewering sloer omdat werkers nie die motivering het om na-ure te werk nie.

Die metro was teen spertyd nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Vir meer nuus, ‘like’ Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button