CrimeNewsUpdate

‘n Lewe van vrees naby dwelmhuis

Inwoners wat naby die vermeende dwelmnes in Villieria woon lewe daagliks in vrees.

Sowat ‘n week na die klopjag in Villieria waartydens die polisie se honde-eenheid nege mense in hegtenis geneem en op verskeie verbode middels beslag gelê het, praat inwoners in die gebied oor hul jare van vrees.

Twee inwoners wat albei naby die dwelmhuis woon en vir veiligheidsredes anoniem wil bly, het Woensdag aan Rekord vertel waarom hulle vrees vir hul lewens en moedeloos is oor die situasie.

Volgens inwoner A, wat al dekades in sy huis woon, is hy onlangs deur die polisie gewaarsku om ‘n lae profiel te handhaaf en nie met enigiemand oor die huis te praat nie.

“Hoekom word mens se mond gesnoer as die polisie aktief moet ingryp?” het hy moedeloos gevra.

Inwoner B is ook raadop en voel dat daar te min polisie-betrokkenheid is. Hy is al herhaaldelik met die dood en die verkragting van sy kinders gedreig en is selfs al met ‘n baksteen gegooi.

“Ek wil vir almal vertel wat hier aangaan, want dit is onaanvaarbaar. Hier stop gedurig motors en hier het selfs nou die dag ‘n prostituut verby ons erf gestap terwyl sy klip hard oor die foon vir ‘n kliënt verduidelik het hoe om by haar uit te kom,” het hy gesê.

Inwoner A beweer dat verskeie Villieria polisiebeamptes by onwettige aspekte van dié huis betrokke is en hulle is raadop oor waar om hulp te kry.

“Ek het verlede week self gesien hoe ‘n polisievoertuig van die verdagtes voor die huis kom aflaai. En ek is al uitgeskel deur die polisie as ek bel oor die onwettige aktiwiteite wat soms tot in die straat plaasvind. Ons wil hierdie mense uit daardie huis hê,” het hy gesê.

Volgens Kaptein Coba Brits, woordvoerder van die Villieria-polisie, kan hulle nie die mense uit die huis skop nie.

“Die polisie doen nie uitsetting nie. Omdat die huis tans aan niemand behoort nie, is daar ‘n prokureur wat daarmee werk. Wat die kriminele aspekte van die huis betref, ons hanteer dit op ‘n selektiewe manier.”

Sy het ook gesê dat indien iemand aantygings teen ‘n polisiebeampte wil maak, hulle ‘n verklaring by die polisiekantoor moet aflê, met duidelike besonderhede soos motorregistrasienommers, plek en tyd , sodat dit opgevolg kan word.

Rekord het verlede week berig dat ‘n klopjag by dié huis in Villieria uitgevoer is. Daar is beslag gelê op dagga en wit poeier wat vermoedelik kokaïen of heroïen kan wees.

Volgens die Villieria-polisie het die nege verdagtes wat toe in hegtenis geneem is onlangs in die hof verskyn.

Vir jou daaglikse dosis nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.

Lees ook: Tshwane metro police clamp down on drug den

Two arrested for drugs in the west

Nog ’n dwelmhandelaar agter tralies

Dwelmverskaffer kom sy Moses teë

Tweede klopjag by huis in Villieria

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button