MunicipalNews

Tshwane metro beloof kennisgewings teen onwettige stortingsterrein

Tshwane metro beloof om iets te doen aan onwettige storting.

Tshwane-metro beloof om ‘Geen Storting’-kennisgewings in al sewe streke van die stad op te rig waar onwettige stortings plaasvind.

Dit volg nadat inwoners van Philip Nel Park in Staatsartilleriestraat oor die vullis gekla het wat op ‘n oop stuk grond gestort word.

Die storting is reeds jarelank ‘n probleem en Tshwane-metro het vroeër belowe om ‘n ‘Geen storting’-kennisgewings hier op te rig.

Metro-woordvoeder Lindela Mashigo sê die department van afval en omgewingsbestuur is besig met ‘n proses om kennisgewings in al sewe streke van die stad op te rig. “Die streekkantoor sal die stortrommel in Staatsartilleriestraat so gou as moontlik opruim.”

Die Demokratiese Alliansie se wykskomitee-voorsitter, Joey Botes, sê dit is onnodig dat mense rommel daar stort, maar dat daar geen ander plek vir hulle is om van die rommel ontslae te raak nie. Sy het gesê Philip Nel Park is nie die enigste plek met ‘n stortingsprobleem nie. Daar is al verskeie plekke in Elandspoort, Westford, Pretoria-Wes en Wespark waar mense op oop grond rommel stort.

“Wat kan die mense doen as die Atteridgeville-stortingsterrein toegemaak is. Die enigste stortingsterreine wat oop is, is vir tuinvullis. Mense kan nie so ver as Pretoria-Noord of Onderstepoort ry nie, dis hoekom hulle oral stort.”

Botes het genoem dat die metro ‘n fout gemaak het om die stortingsterrein toe te maak en dat hulle ‘n ander terrein moet voorsien.

Inwoners sal maar moet wag om te sien of Tshwane-metro sy woord gestand doen om die kennisgewings op te rig.

Mashigo het ook gesê diestortingsterrein is gesluit omdat dit oorvol was.

“Die Stad gaan voort om gemeenskappe teen onwettige storting op te voed deur wykraadslede en platforms. Inwoners wat bykomende vullishouers benodig, moet aansoek doen, asook vir dromme wanneer hulle opknapping of bouprojekte onderneem. Ons kan dit egter nie ignoreer wanneer rommel onwettig gestort word nie.”

Hy het ook gesê die stad het ‘n skoonmaak-veldtog wat hulle Tshwazee noem, begin. Dit sal ‘n skoon omgewing bevorder en rommelstrooi en onwettige storting ontmoedig .

“Ons sal ook verordeninge afdwing teen mense wat onwettig stort. Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om ons te help om ons omgewing skoon te hou vir ons kinders en toekomstige geslagte,” het Mashigo gesê.

Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button