Metaaldiewe teister DBV stééds
Diewe het Dinsdag wéér op die DBV in Waltloo toegesak.
Metaaldiewe het Dinsdag vir ‘n derde keer binne ‘n week op die Tshwane Dierebeskermingsvereniging (DBV) se Waltloo-tak toegesak.
Drie vermeende diewe het helder oordag toegang tot die perseel in Petroleumstraat verkry en metaalhokke by een van die inspekteurs se huise probeer steel.
Korky Levanon, DBV-woordvoerder, sê personeel het die mans agternagesit en vasgekeer, maar die booswigte het dit tog reggekry om te ontsnap.
Hulle het niks gesteel nie.
“Die Silverton-polisie is ontbied en hulle het beloof om die gebied meer gereeld te patrolleer,” sê Levanon.
Sy sê hoewel daar twee veiligheidsmaatskappy is wat saans en oor naweke patrolleer, is die perseel só groot dat daar minstens drie veiligheidsbeamptes is wat permanent toesighou.
Rekord het verlede Dinsdag berig dat diewe herhaaldelik by die DBV toegeslaan het.
‘n Man is toe ook op heterdaad betrap terwyl hy metaalhekke, wat vir onder meer hondehokke gebruik word, geknip het. Die man het inderhaas gevlug toe hy die DBV-personeel gewaar.
Etlike ure later het diewe weer by die Waltloo-tak se werkswinkel en twee voertuie ingebreek. Die voertuie se ruite is uitgeslaan.
Niks is uit die twee bakkies gesteel nie en dit is nog onseker of iets uit die werkswinkel weg is.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
Lees ook:
