‘n Spanpoging tussen die Lyttelton polisie, die Soshanguve honde-eenheid en Hoërskool Centurion, het gesorg vir ’n geslaagde dwelmklopjag by dié skool.
Die doel van die klopjag was om moontlike dwelms op die skoolterrein op te spoor en moontlike dwelmhandelaars vas te trek. Na ’n deeglike soektog is daar egter geen dwelms gevind nie.
“Die klopjag se doel is om te wys dat geen dwelms in Centurion of in die skole van die gebied toegelaat sal word nie, ” het die onderhoof van die skool, mnr. Koekemoer gesê.
Kaptein Molefe van die Soshanguve honde-eenheid is verheug dat daar nie dwelms gevind is nie. “Selfs al vind ons niks, dra ons steeds ’n sterk boodskap oor deur ons teenwoordigheid. Dis ‘n boodskap wat sê dat indien iemand dwelms gebruik of verkoop, hulle gevang sal word.”
Klaskamers is besoek, skooltasse en sluitkassies is deursoek, maar geen dwelms of onwettige middels is gevind nie.
Adjudant Offisier Hero Gumbu van die Lyttelton polisie sê dat dwelms ’n groot probleem in Centurion is. “Ons moet hierdie dwelms uitroei. Die Lyttelton polisie gaan binnekort nog klopjagte by skole in Centurion uitvoer. Dit was nie die enigste skool wat ons gaan besoek nie.”
Gumbu voeg by dat Hoërskool Centurion met trots kan sê dat daar nie dwelms in die skool gevind is nie.
Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.
Lees ook: Dagga found at school in joint police operation
