
Strafregtelike klagtes van aanranding, intimidasie en crimen injuria is Donderdag by Tzaneen se polisiekantoor gelê teen Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters.
Die klagtes spruit uit ‘n voorval op 6 Augustus vanjaar toe Cassie Moller en sy vrou na ‘n gholf-funksie by ‘n kitskos-onderneming na bewering deur Malema rondgestamp is.
Malema het glo sy vinger in Moller se gesig gedruk hom na bewering toegesnou: ‘’I will f*ck you up”. Hy is glo telkemale ‘boer’ genoem in ‘n neerhalende stemtoon.
Binnekring-videomateriaal wat deur Moller se regsverteenwoordiger kragtens die bepalinge van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting van die onderneming verkry is, is sonder ‘n klankbaan maar wys hoe Moller herhaaldelik rondgestamp word.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê Moller het die burgerregte-organisasie om hulp genader.
“Ons het hier te doen met ‘n openbare figuur. Die insident skets ‘n duidelike beeld van Malema as ‘n bullebak wat homself verhewe bo die reg en bo sy mede-landsburgers beskou. Ons kan nie toelaat dat ons openbare verteenwoordigers hulle soos kriminele gedra sonder om die gevolge van hulle dade te ervaar nie,” sê Roets.
Moller sê in sy beëdigde verklaring terwyl sy vrou vir twee hamburgers gewag het, wou ‘n groep mans in die onderneming van haar weet waar hulle verder kon gaan drink. In die parkeergebied buite het ‘n groep mense rondgestaan en skynbaar whiskey gedrink.
Toe die bestelling van die kitskos te lank duur, het sy haar man Cassie nadergewink. Hy het na binne gestap om te hoor hoekom daar so lank gesloer word met die bestelling. Twee ander mans in die restaurant het ook gekla dat die diens stadig is.
‘’Terwyl ek vorentoe gekyk het, het ek ‘n harde klap op my rug gevoel. Toe ek omdraai, het ‘n persoon reg voor my baie vyandig gevra: ‘Who do you think you are?’ Ek het op die punt die persoon herken as Julius Malema, ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Parlement en ook die leier van die politieke party die Ekonomiese Vryheidvegters,” sê Moller in sy verklaring.
“Hy het ook begin sê: ‘Get out, get out!’ Hy het my weereens ‘Boer’ genoem en uit sy stemtoon was dit vir my duidelik dat hy hierdie word gebruik het met die bedoeling om ‘n skelwoord te wees. Ek was oortuig dat hy nie sou huiwer om gewelddadig te raak nie en het dadelik vriendelik aan hom gesê: ‘I am not here to fight with anyone, I just want to find out why my order is taking so long.’ Op hierdie stadium het ek gesien dat ek omsingel is.”
Volgens Moller se verklaring het Malema daarop meer aggressief geraak en begin skreeu.
“Hy het my teen my wil fisies begin stamp en hy het probeer om my fisies uit die onderneming te verwyder.. Ek het opgemerk dat al hoe meer mense begin saamdrom en ek het vreesbevange geraak. Ek was veral bekommerd oor my vrou omrede ek nie in ‘n posisie sou wees om haar te beskerm teen die groep mans nie. Dit was ‘n intimiderende situasie,” sê Moller.
“Ek het aanhou verduidelik dat ek nie wou baklei nie, maar Julius Malema se aggressiwiteit het net toegeneem. Hy het harder begin skreeu en het my begin vloek en geskreeu: ‘F*ck you, you Boer, F*ck you!’ Tydens die warboel het ek ook gehoor dat hy vir my gesê het: ‘I will f*ck you up!'”
Volgens Moller is hy daarna so hard gestamp dat hy sy balans verloor en ook die persoon agter hom laat struikel het. Hy het aangehou verduidelik dat hy nie wou baklei nie. Hy is volgens sy verklaring daarna vir die derde keer weer hard gestamp en uitgeskel as “Boer” terwyl Malema na bewering sy vinger voor sy gesig rondgeswaai het.
“Nadat my vrou die bestelling uiteindelik ontvang het, het hulle my by die onderneming uitgedruk. Toe my vrou uitstap, het een van die mans sy hand teen haar rug gesit en haar ook by die deur uitgedruk. Ek kon ruik dat hulle drank gedrink het en het geen weerstand gebied nie Ek was beangs en het geïntimideerd gevoel,” sê Moller in sy verklaring.
Moller is Woensdag by Tzaneen se polisiekantoor bygestaan in die registrasie van die klag deur verteenwoordigers van AfriForum, wat gister ook ‘n tak in Tzaneen gestig het.
Roets sê: “Hierdie is nie ‘n AfriForum saak teen Malema nie. Dit is ‘n kriminele klag wat Moller teen Malema aanhandig maak. Ons sal Moller bystaan omdat ons weet dat klagstate soms kan wegraak en wil verseker dat die reg sy gang moet loop.”
Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.
Lees ook: VIDEO: Julius Malema rand glo man aan
