‘n Student is vanoggend deur ‘n vermeende bedelaar deur die gesig geslaan, terwyl sy in haar motor gesit het.
Cindy Meyer van Akasia is ‘n honnueursstudent aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie wat omstreeks 10:00 onderweg klas toe was, toe ‘n bedelaar haar onder die brug in Rebeccastraat vir kleingeld genader het.
Toe sy weier om vir hom geld te gee, het die man haar met die vuis bygedam en op haar oogbank getref.
Volgens Cindy se ma, Marinda Meyer, het die man niks gesteel nie, want al Cindy se goed was in die kattebak toegesluit.
“Sy was te geskok om iets te doen, maar ‘n man wat agter haar gery het, het die aanvaller probeer agternasit. Ongelukkig het die man weggehardloop, in die rigting van Marabastad,” het Marinda gesê.
Volgens Marinda is Cindy tans besig met eksamenvoorbereiding. “Ons is maar altyd bekommerd as sy klas toe ry en sy ry graag met die venster bietjie oop omdat haar motor nie lugversorging het nie.”
Cindy is kort na die voorval klas toe en was teen spertyd nie beskikbaar vir kommentaar nie. Marinda het gesê dat hulle nie die voorval by die polisie aangemeld het nie, omdat niks gesteel is nie.
“Hulle teiken duidelik jong mense, veral meisies wat die pad moet ry om by TUT te kom,” het Marinda gesê.
Sersant Ann Poortman het gesê dat Pretoria Wes SAPS nie baie breek-en-gryp voorvalle of diefstal uit voertuie ondervind nie, maar wel meer algemene rooftogte veral op studente en vrouens. Sy stel voor dat motoriste ten alle tye hul deure en vensters moet gesluit en toe hou.
Sy stel ook voor dat mens altyd op jou hoede moet wees en nie vensters oopmaak vir smouse nie. Sake moet wel aangegee word by die polisie sodat hulle bewus kan wees van misdaadgevaarpunte in die area.
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.
