Villieria inwoners is ontsteld oor hutte wat in ‘n agterplaas in hul omgewing opgerig word, vermoedelik vir informele behuising. Die hutte is skaars ses vierkante meter groot en konstruksie het verlede Vrydag begin.
Minstens een hut is reeds voltooi en mense het reeds ingetrek. Rekord het Woensdagmiddag gaan ondersoek instel oor die klagtes, maar voor doeiemansdeur gekom.
Bure is bekommerd oor die situasie, veral oor die gesondheidsrisiko wat informele behuising op die erf sal inhou – sonder sanitasie, lopende water of elektrisiteit.
Paul van der Kooi woon langs die eiendom waar hutte in wording is en hy is bekommerd oor hoe ‘n toeloop van hutbewoners sy privaatheid en veilligheid gaan raak. “Behalwe dat hierdie hutte onwettig is, sien ek baie negatiewe aspekte, insluitend dat dit my eie huis se markwaarde kan beïnvloed, en my privaatheid en veiligheid in gedrang bring.”
‘n Ander buurman, Danie Steenkamp, is ook ongelukkig oor die gesondheids- en veiligheidsrisikos wat hierdie hutte vir die buurt kan inhou. “Dit raak die hele buurt en kan nie geduld word nie, maar die belangrikste van alles is dat dit onwettig is.”
‘n Familielid van die persoon wat die hutte oprig, maar anoniem wil bly vir veiligheidsredes, het meer lig op die saak gewerp. “Die eienaar bewoon nie die huis nie, maar ‘n familielid is woonagtig op die eiendom. Omdat ek nie self daar bly nie ,het ek geen insette oor wat daar gebeur het nie, maar ons het self eers Maandag verneem van die hutte.”
Frans Smith, raadslid vir Wyk 52, sê die bure hom ook in kennis gestel van die hutte wat opgerig word en hy het reeds navrae aan Tshwane-munisipaliteit gerig. “Ek het reeds navraag gedoen oor die wetlike aspekte van die situasie, want volgens die bure is daar reeds inwoners in die voltooide hut wat taamlik luidrugtig en steurend is vir die buurt,” het Smith gesê.
Rekord wag vir terugvoer van Tswane-metro oor die wettigheid van mense wat informele strukture in agterplase bewoon.
Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.

