CrimeLocal newsNews

Vasgebinde man kaal langs pad gekry

Bejaarde man naak aan boom vasgebind ná beweerde prostitute hom in 'n lokval lei.

’n Bejaarde man is onlangs naak aan ’n boom vasgebind nadat beweerde prostitute hom in ’n lokval gelei het.

Volgens polisiewoordvoerder van Akasia, Riana van Aarde, was die man die hele nag sonder ‘n draad klere vasgebind voordat verbygangers hom langs die afgeleë pad in Hornsnek-omgewing gekry het.

Van Aarde het gewaarsku dat mans versigtig moet wees om beweerde prostitute langs die pad op te laai aangesien verskeie sake van diefstal en aanranding in daardie omgewing aangemeld word.

“Dit is heelwaarskynlik ‘n lokval wat net tot teëspoed kan lei.

Volgens Van Aarde is hierdie optrede in Hornsnek ‘n nuwe verskynsel hoewel verskeie ander gebiede in Pretoria bekend is vir lokvalle deur prostitute en hul mansvriende.

“Wanneer ‘n voornemende klient ‘n prostituut oplaai word die man na ‘n afgeleë plek geneem waar ‘n groep mansvriende van die prostituut hom oorval, aanrand en beroof.

“Die diewe besteel die mans van letterlik alles wat hulle besit. Hulle neem selfone, beursies, skootrekenaars en soms selfs die ‘klient’ se motor,” het Van Aarde gesê.

Sy het mans gewaarsku om op hul hoede te wees in hierdie omgewing en klem daarop gelê dat prostitusie teen die wet is en dit geld ook vir mans wat van hul dienste gebruik maak.

Dit wil voorkom asof die skelms doelbewus uit hul pad gaan om ‘kliente’ te verneder, het sy gesê.

Van Aarde het ook gesê dat die vroue al verskeie kere in hegtenis geneem is maar wanneer hul op borg vrygelaat word, hulle telkens na dieselfde plek terugkeer om voort te gaan met hul onwettige bedrywighede.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button