VIDEO: Pa geboei by dogter se partytjie
Metropolisie kla pa aan van dronkenskap en crimen injuria.
‘n Man is Saterdag by sy tienjarige dogter se verjaarsdagpartytjie in ‘n park in Garsfontein in hegtenis geneem toe hy en ‘n sekuriteitsvrou oor ‘n kennisgewingbord gestry het.
Chris de Lange en nóg ‘n man, Dawid du Plessis, is albei omstreeks 15:30 by die Zitapark, oorkant Laerskool Garsfontein deur Tshwane metropolisiebeamptes geboei en na Garsfontein-polisiestasie geneem waar hulle vir ure lank aangehou is.
Die verjaardagpartytjie het in ‘n nagmerrie ontaard toe ‘n vriendin van De Lange en sy vrou, met haar hondjie by die park opgedaag het.
Chris sê die hond was aan ‘n leiband vas toe ‘n sekuriteitsvrou by die parkie vir hulle sê die hond word nie daar toegelaat nie.
“Ek het vir die vrou gesê honde word wel toegelaat solank hulle aan leibande vasgemaak is en dat dit ook só op hul kennisgewingborde buite die park aangedui word,” sê Chris.
Volgens hom het die vrou gesê sy gaan ‘n oproep maak en Chris het aanvanklik gedink sy sou haar bestuurder bel om die saak verder te bespreek.
“Toe daag ‘n metropolisievoertuig met twee beamptes sowat 20 minute later op en peil op ons af.”
Chris sê hy en die beamptes het oor die parkreëls gesels toe nóg twee beamptes by hulle aangesluit het.
“Dié twee het met my begin stry en hul vingers in my gesig geswaai vir my gesê ek moenie met hulle stry nie omdat hulle self die wet is,” sê hy.
Chris het omgedraai om terug te stap na die partytjie toe sy vrou, Sonja, vir hom skreeu om agter hom te kyk.
“Een beampte het my skielik aan my broek gegryp, boeie uitgepluk en my hande agter my rug vasgemaak,” sê Chris.
“Hulle het nie my regte vir my gelees of gesê waarom hulle my in hegtenis neem nie.”
Chris sê hy het rustig gebly en probeer om nie verder met die mans te stry nie.
Nog ’n man, Du Plessis, wat saam met sy kind in die park was en nie die De Langes se partytje bygewoon het nie, het sy selfoon gegryp en ‘n video begin neem terwyl Chris na die metrovoertuig geneem is.
Die beeldmateriaal wys hoe een van die beamptes wat besef hy word afgeneem, die selfoon by Du Plessis probeer gryp, terwyl Du Plessis benoud om hulp skree.
Du Plessis was teen die voertuig se neus vasgedruk en sy hande is agter sy rug geboei. Die ligamente in een arm is glo erg beseer tydens die inhegtenisneming.
Albei mans is agter in die voertuig gegooi en na die polisiestasie geneem waar hulle tot omstreeks 22:30 aangehou is.
Hier het Chris vir die eerste keer gehoor hy word van dronkenskap en crimen injuria aangekla. Du Plessis is daarvan aangekla dat hy met die inhegtenisneming ingemeng het.
“Dit was vir my vreemd omdat die sekuriteit by die park altyd koelbokse deursoek voordat mense by die park ingelaat word, om seker te maak daar word nie drank ingeneem nie,” sê Chris.
“Die sekuriteitsvrou het self ons koelbokse met kos daarin deursoek en geen drank gevind nie.”
Hy sê hy het by die polisiestasie aangedring op bloedtoetse, maar dat dit nie gedoen is nie.
Albei mans het Maandag vlugtig in die Hatfield-landdroshof verskyn, maar die saak is van die rol geskrap.
Chris se kinders, onderskeidelik tien en sewe jaar en een van 8 maande oud, het die hele inhegtenisneming aanskou.
Sonja sê haar een dogter was erg getraumatiseer en het die hele aand oor haar pa gehuil.
“Dit was baie vernederend toe Chris voor almal in die park in hegtenis geneem is. Meeste van die kinders wat daar was is saam met ons kinders in die skool.”
Vriende moes Du Plessis se kind, wat alleen in die park agtergelaat is, huis toe neem.
Met Chris se besoek aan die park die volgende dag, was nuwe rooi strepe, wat glo uit papier geknip is, deur die tekens op die kennisgewingbord geplak wat aandui dat honde toegelaat word mits hulle aan leibande is.
Chris sê hy gaan ’n saak by die polisie aanhangig maak.
“Sulke gedrag deur mense wat veronderstel is om ons te beskerm, is skokkend,” sê hy.
Rekord het die Tshwane-metropolisie genader vir kommentaar maar het teen druktyd nog geen reaksie gekry nie.
Kliek hier om te lees wat ‘n ooggetuie en die Tshwane-metro in tussen gesê het van die voorval.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.




