Local newsMunicipalNews

Derde plakkerskamp in Pretoria Oos

'n Informele nedersetting lok daagliks nuwe sluipslapers.

‘n Informele nedersetting in Pretoria-Oos op die hoek van Solomon Mahlangu-rylaan en Delmas-laan lok bykans daagliks nuwe sluipslapers – tot die diepe kommer van inwoners in die gebied.

Dié nedersetting, met tussen 300 en 400 sluipslapers wat saans in tydelike krotte hier skuiling soek, is een van drie plakkers­kampe wat soos ‘n seer oog in van Pretoria se mees luukse woonbuurte uitstaan. Met Rekord se besoek aan die plakkerskamp, wat vroeër vanjaar soos ‘n paddastoel tussen Wingatepark en Erasmuskloof opgespring het, was daar talle haweloses wat tussen die bosse weggekruip het.

‘n Groepie sluipslapers het om ‘n oop vuur in die veld saamgedrom, terwyl ‘n vrou met ‘n baba op haar heup besig was om wasgoed in ‘n emmer te was. Inwoners van die nedersetting het nie toegang tot toiletgeriewe of vars water nie en gebruik water uit die Wolwespruit om te was en te kook.

Die bourommel wat onwettig in die veld gestrooi word, lok nuwe intrekkers wat daardeur krap en enige bruikbare items verkoop om so aan die lewe te bly.

Demokratiese Alliansie (DA) Raadslid vir wyk 83, Francois Bekker, sê dié snelgroeiende plakkerskamp is ‘n kopseer wat dringende optrede deur die stadsraad vereis. Bekker sê hy het al verskeie kere versoek dat senior amptenare van die Tshwane-metro hom ontmoet om ‘n strategie vir die verwydering van die plakkers te beplan, maar dat sy versoeke klaarblyklik op dowe ore val. Bekker sê die metropolisie het in Oktober ‘n skoonmaakoperasie gehou waartydens hulle tente en meubels uit die veld verwyder het. Maar toe hy die volgende oggend weer die veld besoek, was die plakkers terug.

Bekker meen die enigste oplossing is dat die metro beheer oor hulle eie eiendom neem deur onder meer vir gereelde polisiëring in die veld te sorg.

“Tensy die stuk veld afgekamp word en daar teen diegene wat onwettig rommel hier stort opgetree word nie, sal die probleem voortduur,” se Bekker.

“Hawelose mense is ‘n tydbom in die stad. Verstedeliking is besig om teen ‘n snellepas toe te neem en daar is nie genoeg werksgeleenthede of ‘n holistiese behuisingsplan vir die stad nie.”

Rekord het onlangs oor die informele nedersetting Cemetery View, wat oorkant die Woodlands-gholflandgoed naby die Pretoria-Oos begraafplaas opgespring het, berig.

Sedert 2011, toe daar net ‘n paar hutte in die bosse naby die begraafplaas weggesteek was, het ‘n hele nuwe ‘dorp’ met ongeveer 350 plastiek- en sinkhuisies opgeskiet.

Daar was geen toiletgeriewe of toegang tot vars water nie en inwoners van die plakkerskamp gebruik ‘n kraan in die begraafplaas, wat sowat 150m van die plakkerskamp, om water te bekom.

Persoonlike higiëne en wasgoed word in ‘n stinkende moerasagtige swembad gedoen wat in die Woodlands Estate in drup en eindelik sy pad na die Moreletaspruit vind.

Die spruit word nes die Wolwespruit deur ontlasting besoedel wat uiteindelik in die Pienaarsrivier beland.

Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button