CrimeNews

Man gebruik na bewering buurtwag-radio om kabels te steel

'n Vermeende kabeldief het na bewering 'n handradio wat vir die Silverton-buurtwag bedoel is, gebruik om sy makker op hoogte te hou van patrolleerders se beweging.

Twee vermeende kabeldiewe het hulle Maandag in lede van die Silverton-buurtwag vasgeloop.

Een van dié vermeende diewe is op heterdaad deur die buurtwag betrap terwyl hy in die vroeë oggendure onder die treinbrug langs Moreletastraat ‘n kabel van byna 8m lank gebrand het om die koper te herwin.

Na bewering is sy makker ‘n algemene werker by Hoërskool Silverton en het ‘n handradio by hom gehad wat deur die buurtwag gebruik word om te kommunikeer. Hy het die radio waarskynlik gebruik om patrolleerders se beweging te monitor.

Kobus Koekemoer, een van die patrolleerders wat al 51 jaar in Silverton woon, sê dié radio is aan die werker gegee sodat hy die buurtwag kon laat weet as hy kabeldiewe naby die skool gewaar.

“Ons het die afgelope paar maande ‘n groot probleem ervaar met die kragkabels wat rondom die hoërskool gesteel word. Die diefstalle het altyd ‘n blok of twee vanaf die skool gebeur en in ‘n poging om die misdadigers vas te trek, het die skool dit goedgedink om een van hul werkers in te span om te help,” het Koekemoer gesê.

Koekemoer sê kabeldiefstal het oënskynlik afgeneem kort nadat die radio aan die man gegee is. Dit was egter die stilte voor die storm.

“Skielik het kragkabels weer links en regs rondom die skool verdwyn. Dit was vreemd dat dié diefstalle omstreeks 02:00, ‘n uur voordat ek in die oggende sou begin patrolleer en dit oor die radio sou roep, gebeur het,” het Koekemoer gesê.

‘n Inwoner het Maandagoggend omstreeks 02:00 laat weet die krag was af en Koekemoer en nóg ‘n lid het na die toneel gehaas waar die kabel geknip is. Hy het nie oor die radio aangedui dat hulle op pad was nie omdat hy vermoed het die werker was kop in een mus met die diewe.

“Ons het spore in die modder gesien en dit tot by die skoolhek gevolg. Daar was ook sleepmerke binne die skoolterrein wat die kabel in die grond gelos het,” het hy gesê.

Die buurtwaglede het tot by die kwartiere waar die werker op die terrein bly, gery, die werker se radio by hom gevat en opgemerk dat sy skoensole met dié wat in die modder gelos is ooreengestem het. Sy makker, wat hom waarskynlik aan die swaar kabel help dra het, het weggehardloop.

“Maar ons het ‘n ent verder van die skool af gewag en hom omstreeks 05:00 tot by die treinbrug agtervolg waar hy deur die Silverton-polisie in hegtenis geneem is,” het Koekemoer gesê.

Die skool se algemene werker was teen Woensdag nog nie in hegtenis geneem nie.

Vir meer nuusflitse, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Lees: Power and water disconnected at schools

Cable thieves strike again

Vandalism causes blackout

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button