Nzimande “soek skoor met Afrikaans”
Dr Blade Nzimande se dreigement dat hy Akademia, die eksklusiewe private Afrikaanse Universiteit sal toemaak, het skerp reaksie uitgelok by verskeie Afrikaanse kultuurorganisasies.
Dr Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, se dreigement dat hy Akademia, die eksklusiewe private Afrikaanse Universiteit sal toemaak, het skerp reaksie uitgelok by verskeie Afrikaanse kultuurorganisasies.
Nzimande se uitlating berus daarop dat hy nie sal toelaat dat ‘n hoër onderwysinstelling enige student toegang sal weier nie, al sou dit op grond van taal wees.
Flip Buys, hoof van Solidariteit, sê Akademia voldoen aan alle vereistes wat hom toelaat om as ‘n private hoër onderwys instelling te funksioneer.
“Ek dink die stormpie is oor. Ons voldoen aan al die vereistes en daar is niks wat in ons pad staan om voort te gaan nie. Die situasie by ons is soortgelyk aan ‘n Afrikaanssprekende student wat by Wits wil studeer. Hy sal al sy studies daar in Engels moet doen,” sê hy.
“In die praktyk vind ons dan ook dat daar min Afrikaanssprekende studente is wat na Wits universiteit gaan. So ‘n student, van watter bevolkingsgroep hy ook al is, sal nie by Akademia geweier word nie, hy sal maar net in Afrikaans moet studeer.”
Dr. Deonè Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, het gesê die akademie wil nie op grond van koerantberigte ‘n verklaring uitreik nie, maar neem wel met kommer kennis van Nzimande se standpunt.
“Vir die akademie is Afrikaanse universiteite… ‘n groot strewe en daarom is dit vir ons belangrik dat daar geleentheid geskep word waarin Afrikaans kan gedy. Dit is ‘n uitgemaakte saak dat almal bewus is dat die akademie hom beywer vir die bevordering van Afrikaans in hoër funksionaliteit en om Afrikaans te probeer muilband is sinneloos.”
Dr. Danie Langner, voorsitter van die Federasie van die Afrikaanse Kultuur, het sterk standpunt teen die verklaring van die minister ingeneem.
“Die minister hoort te weet dat die grondwet ruimte skep dat elkeen sy taal en kultuurregte kan uitoefen. Dit is duidelik dat die minister nie Afrikaners of hulle kultuur respekteer nie. Ons sien deur die minister. Daar is ‘n universiteit in die noorde en daar is ‘n universiteit in KwaZulu-Natal waar die taalkwessie nie ‘n probleem is nie.”
Prof. Jacques van der Elst, uitvoerende hoof Afrikaanse Taalraad, sê die heksejag op Afrikaans as onderrigtaal in die hoër onderwys het ‘n nuwe dimensie gekry met die minister van hoër onderwys se dreigement dat hy ‘n universiteit sal sluit as so ‘n instelling slegs Afrikaans as onderrigmedium sou gebruik.
“Dit is duidelik dat die minister met sy uitlatings sy ideologiese onderrok laat uithang en hoegenaamd nie landsbelang en demokratiese beginsels in ag neem nie, Hy kan nie nalaat om Afrikaans met apartheid te assosieer nie, terwyl Engels as taal nes Afrikaans gebruik is om apartheid te propageer,” sê Van der Elst.
“Die minister se taak is om hom in nasionale belang te beywer vir die bevordering en instandhouding van uitnemende universiteite met hoë akademiese standaarde. Die formulering van taalbeleide kan hy aan universiteite se bestuursliggame oorlaat. Dit lyk egter eerder of die minister hom nou met ‘n afdreigtegniek oor taal besig hou met ‘n heksejag op Afrikaans.”
Akademia is ‘n universitêre instelling met voorlopige akkreditasie deur die departement van hoër onderwys, wat tot dusver ‘n B.Com-graad en gevorderde diplomas in Afrikaans aanbied.
Die instelling is oop vir almal en behaal sukses in die hoër onderwyssektor. Voorsiening word gemaak vir werkende Suid-Afrikaners wat nie die hoë klasgeld kan betaal of die geleentheid het om by residensiële universiteite te studeer nie.
Skoolverlaters begin nou ook in groter getalle inskryf. Die byderwetse onderrigmodel, anders as Unisa, van periodieke klasontmoetings en korrespondensie-aanbiedings vind baie byval.
“Byna sewe miljoen Suid-Afrikaners het met die jongste sensus aangedui dat hul huis- of moedertaal Afrikaans is. Waarom mag Akademia – in openbare belang – nie ook ‘n opleidingskeuse vir Afrikaanstaliges van alle kulture bied nie?” vra Van der Elst.
Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
