CrimeNews

GPF raak ontslae van dwelms en handelaar

Terwyl amper die hele Pretoria met verlof is, is die polisie en gemeenskappolisierierings organisasies druk besig om die stad veilig te hou.

Die Hercules GPF het in die afgelope maand verskeie groot suksesse behaal in die stryd teen dwelms in hul gemeenskap.

Hul mees onlangse sukses was op 26 Desember, toe 2kg dagga en ’n vuurwapen by ’n huis in Hermanstad gevind is na dat ’n gemeenskapslid die GPF in kennis gestel het dat tieners dwelms koop by die perseel.

Die GPF het toe saam met die TMPD (Tshwane Metro Polisiedepartement) se ‘Special Operations Unit’ (SOU) gewerk om op die handelaars toe te slaan en te arresteer.

“Dié projek se sukses word toegeskryf nie net aan die harde werk van die GPF en TMPD se SOU nie, maar ook aan die lede van die gemeenskap se betrokkenheid en vrywilligheid om hul buurte veilig te hou,” sê Conrad Naudé, hoof van die Hercules GPF.

“Die hele veldtog teen dwelms gaan al ’n hele ruk aan, maar hierdie klopjag is te danke aan ’n paar weke se harde werk. Alles het op 11 Desember begin nadat ’n Nissan Hardbody voertuig gesteel is.”

Die Nissan was vermoedelik deur ’n sindikaat, wat in die Hercules-omgewing besig is, gesteel. Die TMPD het betrokke geraak by die soektog vir die kar en die sindikaat wat die kar moontlik gesteel het. Die kar is toe nooit teruggekry nie.

Drie dae ná die soektog vir die kar, op 14 Desember is die TMPD se SOU ingeroep na ’n inwoner vertroulik vir die GPF in kennis gestel het dat dwelms by die Bremerstraat-plakkerskamp is. ’n Klopjag is toe saam met die SOU geloots en 108 pakkies dagga is by die plakkerskamp gevind.

“Inwoners is baie keer skrikkerig om inligting te gee, want hul vrees dat kriminele wraak teen hulle gaan neem. Hierdie klopjag het bewys dat inwoners anoniem en vertroulik vir ons inligting kan deurstuur en dat dit lei tot suksesvolle klopjagte,” sê Naudé.

Op 20 Desember het die GPF op hul Facebook-blad die inwoners van die omgewing weereens gevra om enige inligting wat hulle het oor onwettige aktiwiteite, insluitende dwelmhandelaars anoniem aan die GPF te stuur sodat hulle die probleem kan uitwis. Die het gelei na ’n tweede suksesvolle klopjag en ’n dwelmhandelaar is vir die tweede keer gearresteer. ’n Gesteelde kar en motorboot is op die eiendom gevind.

Die suksesse het veroorsaak dat die inwoners al hoe meer vertroue in die GPF gevind het. ’n Inwoner het toe die GPF gekontak en laat weet dat tieners dwelms koop by ’n huis in Hermanstad. Die Hercules GPF, die TMPD SOU en K9 eenhede het die inligting opgevolg en die klopjag op 26 Desember gehou wat gelei het tot die beslagneming van 2kg dagga en ’n vuurwapen.

“Hierdie suksesse work toegeskryf aan die vertroue wat die publiek in ons het en ons vra nou vir die gemeenskap om nog meer betrokke te raak. Wanneer dwelmhandelaars in ’n gemeenskap intrek, is hul eerste teikens die kinders. Dit is kritiek dat ons nou in die vakansietyd kinders weghou van dwelms af en van die dwelmhandelaars ontslae raak,” sê Naudé.

Hy voeg by dat dat enige iemand wat die GPF wil kontak hom op die Hercules GPF se Facebook-blad ’n boodskap kan stuur of op 082-921-9744 bel.

Vir gratis nuusflitse en gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button