Pedofiel-raaisel leef voort
Die raaisel van pedofiel Gert van Rooyen en sy houvrou leef voort - 'n kwart-eeu nadat twee kopskote hul donker lewens beeïndig het.
Die raaisel van pedofiel Gert van Rooyen en sy houvrou leef voort – ‘n kwart-eeu nadat twee kopskote hul donker lewens beeïndig het.
Verdriet en onsekerheid is al wat oorbly vir die families van ses meisies wat spoorloos verdwyn het nadat hulle deur die paartjie ontvoer is.
Die Gert van Rooyen-drama wat die hart en siel van die hele land, maar veral die van Moot-inwoners aangegryp het, lei 25-jaar later nog steeds tot spekulasie en verskeie samesweringsteorie.
Tog bly die waarheid steeds begrawe saam met Van Rooyen en Joey Haarhoff.
Sedet 1988 het die gru-verhaal van Capital Park-inwoner, Gert van Rooyen, die land aangegryp nadat hy verbind is met die ontvoering van ses jong meisies met die hulp van Haarhoff.
Die drama het skielik tot ‘n einde gekom toe die pedofiel eers vir Haarhoff en toe daarna homself in sy motor in Van der Hoff-weg doodgeskiet het ná ‘n dolle polisie-jaagtog deur die strate van die Moot.
Van Rooyen se berugte huis in Malherbestraat 227, Capital Park, het vinnig bekend geraak as die “Huis van Gruwels” nadat ‘n 16-jarige meisie uit dié pedofiel se kloue ontsnap het en ‘n verhaal van ontvoering en aanranding oopgevlek het.
Die verhaal van ontvoerde Fiona Harvey, Joan Horn, Anne-marie Wapenaar, Odette Boucher, Yolanda Wessels en Tracey-Lee Scott-Crossley sal moontlik vir ewig ‘n raaisel bly, maar kort-kort duik daar nuwe bewyse en bewerings op.
Marlize van der Merwe, ‘n Rietfontein-inwoner, beweer dat sy en ‘n vriendin, destyds in Standard 1 (Graad 3), byna die slagoffers van Van Rooyen was toe hy en ‘n vrou langs hulle stilgehou en aanwysings gevra het.
“Op daai stadium het ek in St Lucia, KwaZulu-Natal, gebly. “Ek en my vriendin het in die straat geloop toe Gert en ‘n vrou langs ons stilgehou het. Hy het verduidelik dat hy op soek is na Aspidira vakansiewoonstelle en gevra dat ons in sy motor klim en hom gaan wys waar dit geleë is.”
Van der Merwe en haar vriendin het dadelik onraad vermoed en weggehardloop.
“Later die aand het ek die man se gesig op ‘n bekende polisie-program, Police File, herken. Ek het my ma vertel en sy was buite haarself van kommer. Sy het die polisie in kennis gestel en ek onthou dat ek met verskillende mense oor Gert en die vrou moes praat.”
Jare later het ‘n niksvermoedende Van der Merwe na Pretoria getrek net om uit te vind dat pedofiel Gert van Rooyen die ontvoerde meisies by Malherbestraat 227, Capital Park, aangehou het.
Adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van Wonderboompoort-polisie, was ses jaar in die polisie toe die Van Rooyen-drama aan die lig gekom het.
“Ek was maar rou in die polisie en het nie veel geweet nie. Ek was ‘n polisie-student in ‘n klein kantoor met die naam Blinkpan in Mpumalanga. Ek het een dag in die aanklagkantoor gestaan toe daar ‘n oproep inkom wat beweer het dat een van die meisies in ‘n voertuig op een van die mynpaaie opgemerk is,” vertel Olivier.
“Blinkpan is ‘n myner-gemeenskap. Ek onthou dat van die meer gesoute polisielede gery het om die bewering op te volg, maar sonder enige sukses.” Min het sy geweet dat sy jare later in ‘n polisiekantoor sou werk in die gebied waar hierdie ondenkbare misdade gepleeg is – Wonderboompoort-polisie.
“Ek onthou ‘n keer in Capital Park is daar met ‘n aanbouing in dié area op beendere afgekom. Dit het ‘n hele kettingreaksie veroorsaak het, maar dit het die bene van diere geblyk te wees.”
Die polisie het in 1989 Van Rooyen se huis, swembad en tuin opgegrawe in die hoop om antwoorde te kry – 25-jaar later is 227 Malherbestraat ‘n leë beboste erf wat nooit enige antwoorde opgelewer het nie.

