Metro se bedroglyn onder skoot
Die funksionaliteit van die metro se bedroglyn word bevraagteken nadat raadslede probleme ondervind het om ’n klagte oor beweerde metropolisiebedrog aan te meld. Raadslid Adriana Randall wag sedert Januarie op ’n formele verslag oor die diens se werking en doeltreffendheid.

’n Bedrog-aanmeldingslyn wat inwoners veronderstel is om 24 uur per dag te kan gebruik, het nuwe vrae oor die metro se stelsels ontlok.
Dit volg nadat ’n poging om ’n dringende klagte oor beweerde bedrog by die Tshwane Metropolisie aan te meld, volgens die DA se Wyk 1-kandidaat in die Wes-Moot, Priscilla Pannell, op ’n dooie punt beland het.
Die probleem is volgens Moot-raadslede nie nuut nie.
DA-raadslid Adriana Randall het reeds op 9 Januarie 2026 ’n versoek vir ’n verslag oor die werking van die bedroglyn laat indien. Maande later is daar volgens Randall steeds nie ’n formele verslag oor die werklike werking van die diens aan die betrokke toesigstruktuur voorgelê nie.
Die kwessie het in September weer dringend geword toe Pannell genader is met ’n klagte wat sy wou help aanmeld oor beweerde bedrog deur metropolisie-lede.
Volgens Pannell het sy toe ontdek dat die korrupsielyn wat die metro aan die publiek bekendstel, nie funksioneer soos wat ’n inwoner redelikerwys sou verwag nie en boonop dat die nommers wat op amptelike kommunikasiekanale aangegee word, verkeerd is.
“Dit het ’n eenvoudige vraag laat ontstaan: Hoe moet inwoners moontlike korrupsie of bedrog onmiddellik aanmeld as die Stad se eie aangewese kanaal nie maklik bereikbaar is nie?” verduidelik Pannell.
Volgens Randall is die probleem nie noodwendig dat die bedroglyn deur ’n eksterne diensverskaffer bestuur word nie. Sy verduidelik die metro se model maak juis voorsiening vir ’n onafhanklike eksterne diens om die anonimiteit van fluitjieblasers te beskerm, terwyl die munisipaliteit self toesig oor die stelsel en die hantering van sake behou.
Die metro se amptelike beskrywing van die bedroglyn bepaal dat dit inwoners en amptenare in staat moet stel om bekende of vermoedelike bedrog en korrupsie anoniem deurlopend aan te meld.
Die stelsel behoort volgens die metro se vereistes aan die verskaffer 24 uur per dag, sewe dae per week beskikbaar te wees, met verskeie aanmeldingskanale.
Die gepubliseerde tolvrye nommer op die metro se kommunikasiekanale is 080 874 9263, met ander kanale wat WhatsApp, Telegram en ’n webgebaseerde stelsel insluit.
Randall sê sy het die diens self getoets en wel ’n verwysingsnommer ontvang. Volgens haar het die proses egter daar geëindig. Sy sê ook dat die metro se versekering dat die diens aktief en doeltreffend is, nie deur ’n formele verslag ondersteun is wat aan die toepaslike toesigstruktuur voorgelê is nie.
Die metro het intussen ’n nuwe tender vir die diens geadverteer. Tender GAR 01-2026/27 is op 11 September 2026 gepubliseer vir die aanstelling van ’n diensverskaffer om ’n onafhanklike bedroglyndiens vir drie jaar te lewer. Die tender sluit op 22 Oktober 2026.
Die tydsberekening daarvan maak die kwessie des te meer relevant vir Randall.
“Aan die een kant word inwoners gevra om vermoedens van korrupsie en bedrog deur amptelike kanale aan te meld. Aan die ander kant is daar nou ’n politieke en administratiewe vraag oor of daardie kanale inderdaad konsekwent werk wanneer iemand dit dringend nodig het en wat is die terugvoer op klagtes. Hierdie kwessies moet voor die toekenning van die nuwe tender uitgeklaar word,” glo Randall.
Vir Randall is die volgende stap eenvoudig: die metro moet verduidelik wat met die verslag gebeur het wat reeds op 9 Januarie aangevra is.
Sy hoop om antwoorde tydens die vergadering in Oktober van die Finansiële Portefeuljekomitee te kry.
Die kwessie gaan uiteindelik oor meer as een telefoonnommer glo Pannell.
Sy glo ’n bedrogblitslyn is slegs so effektief soos die vermoë van ’n inwoner om dit onmiddellik te gebruik wanneer daar ’n vermoede van onreëlmatigheid bestaan.
“As Tshwane sê sy bedroglyn is onafhanklik, anoniem en 24 uur per dag beskikbaar, behoort inwoners ook sonder onsekerheid te weet waar om aan te meld, hoe om aan te meld en dat hul klagte inderdaad geregistreer is en aandag daaraan gegee word,” meen Pannell.
– Meer inligting en kommentaar is by die metro aangevra maar nog nie teen publikasie ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel