Drie rowers het Dinsdag juwele en twee videomasjiene geroof by ‘n huis oos van Pretoria waar hulle kwansuis skoolboeke moes aflaai.
Martha Mtombeni (53), huishulp by die woning van Linda en Pieter Ferreira in Catarinastraat, Murrayfield, sê daar was ‘n geraas by die voorhek omstreeks 12:30. Sy het ondersoek gaan instel.
“Toe ‘n man sê dat hy boeke wil aflaai, het ek na die grys motor gestap wat voor die huis geparkeer was. Die man het ‘n pistool uitgepluk, teen my kop gedruk en gesê ek moet huis toe stap. Waar die ander twee rowers vandaan gekom het, het ek nie gesien nie.”
In die huis het een van die rowers haar eers in ‘n slaapkamer gedwing, vertel Mtombeni.
“Een van die ander mans het gesê: ‘Nee, die ding (dis nou ek) moet liewer in die badkamer wees want ons het die goed gekry wat ons gesoek het.’ Met die pistool nog teen my kop gedruk het hulle my beveel om in die stort te gaan sit,” sê sy.
“Een van die rowers het gedreig om my te skiet as ek nie stilbly nie. Die derde rower wou ‘n mat oor my kop gooi, maar ek het gekeer en gesê ek sal stil bly.”
Linda Ferreira, by wie Martha al 25 jaar werk, sê die rowers is weg met ‘n ’n groot hoeveelheid juwele, ‘n nuwe videomasjien met ‘n groot plasmaskerm en ‘n ouer model.
“Dit is eienaardige diewe. Naas die videomasjiene, het hulle ook ‘n ketel, ‘n bak vol vrugte en ‘n stokou bril geroof waaraan my man baie sentimentele waarde heg,” vertel Linda
Martha sê sy het die badkamerdeur versigtig oopgemaak toe sy nie meer die rowers kon hoor nie, na buite gestorm en alarm gemaak.
‘n Buurvrou in die kompleks het haar gille gehoor en die alarmknoppie gedruk. Die veiligheidsfirma ADT was vinnig op die toneel maar ‘n patrolliesoektog na die rowers het niks opgelewer nie.
“Toe Pieter die aand by die huis kom en saam met Martha na die polisiekantoor is, was sy nog erg geskok en het sy kort-kort in trane uitgebars,” sê Linda.
Vir die nuutste gratis nuus besoek ons webtuistes:
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
