Dapper inwoners trek dief vas
Dapper inwoners trek vermeende dief op ’n rustige Sondagoggend vas.
Vreeslose Villieria-inwoners het nie vir ‘n oomblik gehuiwer om ‘n vermeende dief Sondag agterna te sit nie.
Dié man het glo nege botteltjies reukweerder by ‘n bekende kettingwinkel in die Moot gesteel toe die winkel se sekuriteitswag alarm maak.
Inwoner Hein Ipland en sy gesin was omstreek 09:50 op pad kerk toe in Ben Swartstraat toe die drama voor hom ontvou.
‘n Rustige Sondagoggend vir die Ipland-gesin het vinnig in ‘n jaagtog ontaard.
“‘n Sekuriteitswag het die dief gejaag en my vrou Michelle het voorgestel dat ek help. Ek het my wit 1971 Toyota Corona omgedraai en by die jaagtog aangesluit.”
Die Ipland-egpaar het die vlugteling tot by Oppiplaas-restaurant se parkeerterrein gevolg waarna twee onbekende mans ook op hom toegesak het. Deur hul blitsvinnige reaksie is die dief vasgetrek.
Twee broers, Pierre en Jacques Marais, het op hul voorstoep gesit toe hulle Michelle hoor gil.
“Sy het geskree, ‘gee terug die goed wat jy gesteel het’, toe weet ek daar is moeilikheid. Ek en my broer het besluit om hulle te help en die man tot by Oppiplaas gejaag,” het Pierre gesê.
Pierre sê nie hy of sy broer het daaraan gedink dat die vermeende dief moontlik ‘n wapen by hom gehad het nie. “Ons het net gedink dis ouerige mense wat die man jaag en ons moet help anders kom hy weg.”
Jacques het die vermeende dief tot teen die grond getakel en hy is in hegtenis geneem.
“Moot-mense moet leer om nie meer eenkant te staan as hulle iemand in die moeilikheid sien nie. Ons moet saam staan en misdaad bekamp,” sê Pierre.
Ipland sê hy is trots dat hulle misdaad saam kon beveg. “Ek en my gesin is trots dat die man in hegtenis geneem is en dat ons ‘n rol gespeel het in die beveiliging van Moot,” het Ipland gesê.
Kaptein Koba Brits, woordvoerder van die Villieria-polisie, het die voorval bevestig. Die man het Maandag in die hof verskyn.
Vir gratis gemeenskapsnuus in jou area, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook gerus ons Facebook en Twitter blaaie.
