GalleriesLocal newsNewsNews galleriesUpdate

Krok-slagoffer herstel fluks

Okkert Smit ontsnap krok se byt, leef om storie te vertel.

‘n Hengelaar van Pretoria sterk goed aan nadat hy onlangs in die kake van ‘n krokodil beland en naelskraap aan die dood ontkom het.

“Ek is ontslaan uit die hopitaal en dit gaan eintlik baie goed met my. Hoewel die wond nog ‘n bietjie rooi is, is dit besig om goed te genees,” het Okkert Smit (53) van Andion-landbouplotte hierdie week gesê.

Hy was verlede week op ‘n kort wegbreek saam met sy vrou Zenobia by die Rust de Winter natuurreservaat toe hy amper sy lewe verloor het. Smit was heel dag besig om vis te vang, en het die visstokke en nette wat hy gespan het in die water gelos.

Hy en sy vrou was besig om te braai toe hy omstreeks 20:15 beweging by een van die visstokke sien. Dit het geblyk dat hy ‘n karp aan die hoek het. Smit het toe die vis uit die water gehaal en terug kamp toe gedra.

Smit het opgemerk dat een net wat hy gespan het bo-op die water lê. Hy het toe ‘n groot klip gevat en in die water gegaan om die net af te druk.

“Ek het die klip op die net gesit, en toe ek omdraai, voel ek net ‘n verskriklike brandpyn in my been. Ek was vas. Ek het op daai oomblik net geweet dat ek moet uitkom voordat die krokodil begin tol en my onder die water insleep, waar ek geen kans sou hê nie,” vertel Smit.

“Ek het my been weggeruk en uit die water gehardloop. Toe ek buite die water is sien ek dat my been erg bloei en ‘n groot deel van die agterkant van my onderbeen afgeskeur is en aan ’n stuk vel hang.”

Smit en sy vrou het opgepak en reguit na Montana privaat-hospitaal gejaag. Smit is in die hoësorg-eenheid opgeneem waar die groot wond behandel en toegewerk is.

“Ek is so dankbaar dat dit nie erger was nie. As die krok my van voor af gegryp het, sou ek heel moontlik nie kon wegkom nie. Dit is die Here se genade dat ek weggekom het en niks erger oorgekom het nie,” sê Smit.

Smit het geweet dat daar krokodille by Rust de Winter is, maar sê daar is min borde by die dam om vakansiegangers te waarsku.

“Iemand wat nie vooraf weet dat daar krokodille is nie, gaan heeltemal onbewus wees. As ‘n kind in die water gaan, en ‘n krokodil gryp hom, dan het hy geen kans om weg te kom of terug te veg nie. Hopelik sal hierdie mense bewus maak om versigtig te wees by water.”

Smit en sy vrou doen albei bedieningswerk vir hulle kerk, en Smit sê hy sal sy werk hervat sodra hy weer op die been is.

Smit sê sy dokter het aanbeveel dat hy die wond oop los, en net skoon hou.

“Ek kan ook weer loop, maar die been word vinnig moeg want dit is nog baie styf. Ek het ‘n baie goeie dokter en hy verwag dat ek weer normaal sal kan loop.”

Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

Lees: Man beland in krok se kake

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button