Pa’s en dogters geniet besonderse aand saam
‘Date night’ vir pa’s en dogters by Laerskool Bakenkop was ’n besonderse geleentheid.
Pa’s en dogters van Laerskool Bakenkop het ‘n glansryke ‘date night’ op Donderdag 19 Februarie saam geniet. Die pa’s het in netjiese pakke opgedaag en die dogters in pragtige aandrokkies.
Die pa’s moes meer as ‘n maand gelede registreer vir die aand. Volgens Izett Grimsell, bemarkingsbeampte van Laerskool Bakenkop, was die opdrag duidelik, “Jy maak ‘n formele afspraak in jou dagboek met jou dogter.”
“Die belangstelling was oorweldigend,” het Willie Fourie, skoolhoof van Laerskool Bakenkop, gesê. “Op die groot aand was dit ‘n knop-in-die-keel ervaring om te sien hoe pappas, te midde van ‘n baie warm middag, met duur sportmotors in hul pakke klere met dogters aan hul sy opdaag by die saal.”
Die ‘date night’ het uit vier dele bestaan wat deel gevorm het van die glans van die aand. Die pa’s en dogters het reg langs die rooitapyt gestop en was soos koninklikes behandel terwyl daar foto’s geneem was. Daarna het die pa’s en dogters ‘n professionele dansles ontvang, gevolg deur ‘n piekniek op die skool se rugbyveld. Tydens die piekniek moes pa en dogter ‘n stel vrae antwoord om mekaar beter te leer ken. Die aand is afgesluit met ‘n professionele fotosessie.
“Dit was lekker om elke dogter saam met haar pa by die skoolhek te ontvang en die geluk en trots te ervaar wat elke dogter uitgestraal het in die teenwoordigheid van hul pappas. Daardie glimlag op kindergesigte maak die onderwysberoep lekker,” het Fourie gesê.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.



