CrimeNews

Pta-Wes moordenaars op video

’n Veiligheidskamera het mense en gebeure opgeneem voordat ’n sakebestuurder Maandag by ’n slaghuis in Pretoria-Wes doodgeskiet is.

‘n Veiligheidskamera kan help om die moordenaars wat Louis du Toit (29) Maandagoggend by ’n slaghuis in Pretoria-Wes doodgeskiet het, vas te trek.

Die kamera van die Tshwane metropolisie het mense en gebeure opgeneem voordat die moord op die sypaadjie voor Pretoria Chicken and Meat gepleeg is.

’n Anonieme bron wat die beeldmateriaal gesien het, sê dit wys hoe die twee moordenaars op ’n straathoek naby die slaghuis rondbeweeg. Dit lyk of een van die mans ’n oproep of sms kry voor die skietery. Hulle beweeg vinnig in die rigting van die slaghuis en wag Du Toit by die deur van die slaghuis in.

Die twee se gesigte is duidelik waarneembaar.

Dié kameralens was tydens die skietery in ’n ander rigting gedraai.

Die beeldmateriaal wys ook hoe die twee mans ná die skietery oorkant die straat van die slaghuis tussen die skare staan en kyk na die toneel waar die polisie reeds besig was. Een van die mans trek sy sweetpakbaadjie uit voordat hy by die skare aansluit.

Volgens die video het die twee later eenvoudig weggestap.

Die polisie het vroeër gesê die twee rowers het in ’n wagtende voertuig weggejaag.

Polisiewoordvoeder kaptein Bonginkosi Msimango wou geen inligting oor die beeldmateriaal verskaf nie omdat dit deel vorm van die polisie se ondersoek.

“Ons het die beeldmateriaal ontvang maar ons kan niks van dit met die publiek deel nie. Dit gaan as bewys in die hof gebruik word en ek kan geen kommentaar oor dit lewer nie.”

Msimango kon ook nie bevestig of die polisie werknemerbetrokkenheid ondersoek nie.

Du Toit was op pad bank toe met ’n geldsak om R140 000 te deponeer. Sy aanvallers het die sak gegryp nadat hy geskiet is.

Pieter Swanepoel, ’n direkteur van die slaghuis, sê veiligheidsmaatreëls by dié slaghuis gaan opgeskerp word.

“Ons gaan ’n paar goed hier verander en ons gaan ’n sekuriteitsmaatskappy moet kry om ons geld elke dag te kom haal.”

Du Toit word Vrydag begrawe.

Enkele ure later is die eienaar van Toyco Motor Spares, Jury Hayes (41), in Soutterstraat ook tydens ’n rooftog vermoedelik deur dieselfde twee mans doodgeskiet. Hayes het voorgegee dat hy ’n klant was toe hy trompop in die rug geskiet is.

moordenaars

Lees ook: Business manager shot dead

Second man killed in robbery at business

Moordenaars steeds op vrye voet

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button