
‘n Heldhaftige inwoner van Wonderboom-Suid het Dinsdag vrou-alleen ‘n kaper in Florauna gefnuik.
Christelle Truter was Dinsdagmiddag omstreeks 13:50 op pad na ‘n koffie-afspraak in Florauna toe sy in ‘n weldoener sonder weerga ontpop het.
Sy het ietwat verdwaal en in dieselfde straat beland waar die 65-jarige Christina Scholtz pas gekaap is.
“Ek het gesien hoe die tannie op iemand in ‘n rooi Chevy Spark gil. Toe ek tot verhaal kom, het ek besef sy is pas gekaap. Ek het net daar en dan besluit om haar rooi kar agterna te sit,” vertel Truter.
Truter het haar bakkie in rat gesit en die vetgegee om by die gekaapte voertuig te hou.
“Ek het nie ‘n plan van aksie gehad nie. Ek het net geweet ek moet by die kar hou. Na ‘n hele ent, het ek besluit om verby hom te ry en voor hom in te kom. Op dié manier kon ek hom half-en-half voorkeer,” sê Truter.
Sy het vir ander motoriste ligte geflits, arms geswaai en gegil om hulle aandag te trek.
“Die kaper het seker besluit ek trek te veel aandag en hy het besluit om in Rachel de Beerstraat af te draai. Sekondes later het hy uitgespring en saam met twee anders mans in ‘n Toyota Corolla weggejaag.”
Scholtz sê Truter was werklik braaf om die kapers op eie houtjie agterna te sit.
“Sy het dit reggekry om die kaper van die pad af te dwing. Ek is haar innig dankbaar.”
Scholtz sê die kaper het haar aan die arm gegryp en uit die voertuig geruk voordat sy op die grond geval het. Haar elmboog en knieg was nerf-af.
“Ek is net so dankbaar dat ek die kar teruggekry het. Dit is my dogter se kar en dit het geen versekering nie.”
‘n Klag is by Pretoria-Noord se polisie gelê.
Vir meer gratis nuus besoek Rekord se webtuistes:
Gaan besoek Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.
