‘n Ou truuk in die boek is weer besig om sy kop in die Sinoville-omgewing uit te steek.
‘n Breek-en-gryp dief het ‘n niksvermoedende motoris Dinsdag byna besteel nadat hy haar voertuig se deur in Sefako Makgathoweg wou oopruk.
Die breek-en-gryp dief het glo vir die motoris gesê daar is iets fout met haar wiel. “Toe sy nie vir dié truuk val nie het hy haar geslote voertuigdeur probeer oopruk. Gelukkig was dit gesluit,” het Mirna von Benecke, woordvoerder van die Sinoville-polisie, gesê.
Volgens Von Benecke het dié tipe misdaad heelwat afgeneem, maar daar is weer verskeie gevalle in die afgelope weke opgemerk.
“Ons maan motoriste om enige waardevolle items in die kattebak toe te sluit en hul selfone buite sig te hou. Sluit deure ten alle tye en moenie voertuigvensters groot oopdraai nie,” het sy gemaan.
Von Benecke maan ook ouers om seker te maak hul voertuie is gesluit voordat hulle hul kinders na klaskamers toe vat.
“Ons wil ouers net paraat maak op afstandbeheer-peutering wat deesdae weer sy kop in die area uitsteek,” het sy gesê.
Die diewe gebruik toestelle wat inmeng met jou afstandbeheer se sein en dan verhoed dat die voertuig sluit.
“Ouers moet daadwerklik ‘n poging aanwend om geen waardevolle items soos skootrekenaars, handsakke en beursies in voertuie te laat nie.”
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
