Bourommel steeds ‘n oogseer in die Noorde
Bourommel langs Dr Swanepoelweg veroorsaak veiligheids- en gesondheidsrisiko.
Bourommel wat op die hoek van Dr Swanepoelweg en Stefanstraat gestort word, veroorsaak steeds ‘n oogseer vir inwoners in die omgewing.
Lynda Smith in die noorde van Pretoria sê rommel op perseel veroorsaak ‘n veiligheidsrisiko omdat werklose mense daar saamdrom.
“Bo en behalwe die feit dat dit ‘n veligheidsrisiko is, hou dit ook ‘n gesondheidsrisiko in,” sê Smith.
Nog ‘n inwoner, Hilde Potgieter, sê sy vrees daagliks vir haar lewe aangesien sy vrou-alleen in haar huis reg langs die perseel woon.
Volgens Demokratiese Alliansie (DA) raadslid Arnold van Niekerk het die Tshwane-metro wel ‘n waarskuwing aan die eienaar van die perseel uitgereik wat eis dat hy dit binne 30 dae opruim. “Die Tshwane-metro se gesondheidsafdeling het aan die eienaar gesê dat hy so gou as moontlik die bourommel moet verwyder anders sal Tshwane-metro regstappe neem.”
Van Niekerk sê die perseeleienaar het nie toestemming van die Tshwane metro om daar te stort nie. “Daar moet eers aansoek gedoen word en ‘n mens moet goedkeuring van die Tshwane-metro ontvang voordat bourommel gestort kan word.”
Die eienaar van die perseel is tans in die buiteland en was nie beskikbaar vir komentaar nie.
Van Niekerk sê hy kry skaam om te dink dit is ‘n inwoner wat die omgewing so besmet. Hy meen ook die perseel hou ‘n gesondheids- en veiligheidsrisiko in.
Tshwane-metro het na ‘n week steeds geen terugvoer gegee oor die bourommel nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
