‘n Danville-inwoner is teleurgesteld oor gebrekkige diens van Tshwane-metro.
‘n Waterpyp het Saterdagoggend voor Annamarie Greef se huis gebars en haar hele erf en die bure se huis oorstroom.
“Ek het die munisipaliteit tussen Saterdagoggend tot Sondag omtrent 40 keer gebel oor die waterpyp, maar geen antwoord gekry nie. Die waterpyp lek nou nog,” het Greef gesê.
Sy het gesê die lekkasie is ‘n vermorsing van water. “My erf lyk soos ‘n dam omdat al die water daardeur loop.”
Greef sê haar bure het by haar kom kla oor die water wat hul huis oorstroom en hulle het ook die metro gebel, maar geen antwoord gekry nie. Die gebarste waterpyp is buite Greef se erf en dit is metro-eiendom wat hulle moet regmaak.
Sy sê toe sy Maandagoggend weer die metro bel, het hulle gesê die waterlek word aangemeld sodat dit herstel kan word.
“Ek dink dit is uiters swak diens van die stadsraad. Waarvoor is daar noodnommers as hulle dit nie antwoord nie?” vra Greef.
Tshwane-metro het teen druktyd geen kommentaar gelewer nie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.


