
Die berugte “Spiderman” wat die Moot al ‘n geruime tyd teister, is moontlik gevang.
Adjudant-offisier Anton Breedt, woordvoerder van die Moot-polisiestasie, sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat hy die man is wat hulle in die vroeë oggendure van Saterdag in Wonderboom-Suid in hegtenis geneem het.
Hy het in ‘n voertuig gery wat nie sy eie is nie en het goedere vervoer wat vermoedelik gesteel is.
“Die ondersoek duur voort en dus kan ons nie bevestig of die man wel die berugte ‘Spiderman’ is nie. Die polisie is wel besig om te kyk of die man met enige van die onlangse Wonderboom-suid inbrake gekoppel kan word,” sê Breedt.
Die Moot-polisie het ‘n dief wat doenig is in die omgewing “Spiderman” gedoop omdat hy op ‘n onverklaarbare wyse toegang tot woonstelle op hoë verdiepings kry.
Hy steel gewoonlik elektroniese toerusting, selfone en juweliersware. Dieselfde man word van ‘n onlangse mes-aanval en verkragting verdink.
Die 60-jarige Amanda Müller van Rietfontein is tydens Februarie in haar woonstel met ‘n mes aangeval. Die indringer het op ‘n onverklaarbare wyse toegang tot haar woonstel gekry voordat hy haar en haar sieklike vriendin sowat twee uur lank in die woonstel aangehou het.
‘n Vrou van Wonderboom-Suid is in die vroeë oggendure van 10 Maart deur ‘n onbekende man in haar woonstel verkrag.
Die man het op ‘n manier toegang verkry deur ‘n venster van haar woonstel op die tweede verdieping.
Lees: Wonderboom-vrou in woonstel verkrag
Moot se eie “Spiderman” slaan toe
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
