News

Renosterdag: SA het net meer as 15 000 renosters

Suid-Afrika se renosterbevolking toon tekens van herstel, maar die voortgesette verlies van diere weens stropery beklemtoon dat die beskerming van die land se renostererfenis steeds ’n dringende prioriteit is.

Volgens die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing op Internasionale Renosterdag op 22 September was daar aan die einde van 2025 minstens 15 096 renosters in Suid-Afrika. Die bevolking het bestaan uit minstens 2 565 swartrenosters en 12 531 witrenosters. Dit verteenwoordig ’n toename van 4.9% teenoor 2024.

Die positiewe bevolkingsgroei kom egter te midde van voortdurende stropery, verduidelik die departmentele woordvoerder, Sello Molekwa.

Op Wêreld-renosterdag is daar weer besef die groter bewaringstaak bestaan uit die beskerming van bestaande bevolkings, die uitbreiding van veilige habitat, die bekamping van georganiseerde wildlewehandel en die ondersteuning van voortplanting. Vir Suid-Afrika en ander renosterlande bly die doel om bestaande bevolkings te beskerm en nuwe geleenthede vir die spesie se herstel te skep. Foto: Elize Parker

Van Januarie tot einde Augustus vanjaar is 230 renosters landwyd gestroop, teenoor 248 gedurende dieselfde tydperk in 2025.

In die Krugerwildtuin is 114 renosters gedurende die eerste agt maande van 2026 aan stropery verloor, vergeleke met 123 in dieselfde tydperk verlede jaar.

Hoewel die afname in stropery vir die departement betekenisvol is, is die verlies van elke dier ’n bedreiging vir bevolkingsherstel, sê hy.

Molekwa verduidelik stropery verwyder nie slegs individuele diere nie, maar kan ook teeldiere uitskakel, kalwers wees laat en die natuurlike groei van bevolkings ontwrig.

In 2025 het stropery volgens die departement 2,2% van Suid-Afrika se renosterbevolking verteenwoordig, onder die geraamde 3.5%-drempel vir bevolkingsvolhoubaarheid.

Die daling in verliese word verbind met onder meer voortgesette instandhouding, onthoring, verbeterde beskermingsmaatreëls en volgehoue wetstoepassing.

Molekwa benadruk dat die Krugerwildtuin het intussen sy veldvermoë versterk deur bykomende veldwagters en renostermonitors onder die Renoster-Renaissance-inisiatief aan te stel. Die inisiatief vorm deel van ’n breër Renosterbewaringsplan wat onthoring, veelvlakkige sekuriteit, toepaslike tegnologie, vaardigheidsontwikkeling en sterker integriteitsbestuur insluit.

Die beskerming van bestaande renosters is egter slegs een deel van die groter bewaringstaak. Die uitbreiding van geskikte habitat en die vestiging van nuwe bevolkings speel ook ’n belangrike rol in die herstel van die spesie.

Een voorbeeld hiervan is die Wêreldnatuurfonds Suid-Afrika se Swartrenoster-gebiedsuitbreidingsprogram, wat onlangs 20 swartrenosters van KwaZulu-Natal na Botswana verskuif het. Die diere het hul nuwe tuiste veilig bereik en word tans gemonitor terwyl hulle by hul nuwe omgewing aanpas.

Die verskuiwing is vroeg in September voltooi en het twee padritte van ongeveer 36 uur elk behels. Die renosters is na ’n afgeleë en beveiligde gebied geneem wat oor voldoende ruimte beskik om die nuwe bevolking te laat voortplant en groei.

Die verskuiwing verdubbel Botswana se swartrenosterbevolking. Die land het volgens beskikbare skattings ongeveer 25 swartrenosters gehad voordat die nuwe diere daar aangekom het. Die totale bevolking word nou op sowat 45 geraam.

Die operasie was slegs die tweede verskuiwing wat deur die program uitgevoer is. Die eerste het in 2019 plaasgevind toe swartrenosters na Liwonde Nasionale Park in Malawi verskuif is.

Die fonds se uitvoerende hoof, dr. Morné du Plessis, beklemtoon die omvang van die operasie.

“’n Waterskeidings-operasie soos hierdie is ’n uiters ingewikkelde onderneming, en daarom is ons uiters dankbaar teenoor almal wat betrokke was vir die suksesvolle voltooiing daarvan.”

Hy gee erkenning aan die Suid-Afrikaanse en Botswana-regerings, Ezemvelo KZN Wildlife, befondsings- en skenkingsvennote en die eienaars van die ontvangsterrein.

Die 20 swartrenosters is vroeg in Junie in KwaZulu-Natal gevang en vir ’n kwarantyntydperk in ’n boma aangehou voordat hulle na Botswana vervoer is.

Jeff Cooke, leier van die Swartrenoster-gebiedsuitbreidingsprogram, het bevestig dat die diere veilig by hul bestemming aangekom het.

Die program werk sedert 2003 aan die vestiging van nuwe swartrenosterbevolkings. Tot dusver is 18 nuwe bevolkings gevestig en 310 swartrenosters verskuif. Meer as 220 kalwers wat op terreine van die program gebore is, het oorleef.

Geskikte habitat bly egter ’n uitdaging. Swartrenosters is blaarvreters en benodig spesifieke plantegroei. Die program fokus daarom op gebiede van ongeveer 20 000 hektaar of groter waar voldoende habitat beskikbaar is.

Cooke sê dat sulke gebiede toenemend moeilik is om te vind, wat die uitbreiding van die program oor landsgrense noodsaak.

“Deur dit te doen, help ons ook met bevolkingsherstel in lande waar swartrenostergetalle die afgelope jare sterk afgeneem het.”

– Kliek hier om na renosterkalf en -koei te kyk:

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button