Vrou in hegtenis geneem ná foutiewe draai
Die woordvoerder van AfriForum is verlede Dinsdag in hegtenis geneem nadat sy per ongeluk in ’n eenrigtingstraat in Centurion beland het.
‘n Eis van skadevergoeding word teen die Minister van Polisie, Nkosinathi Nhleko, ingestel deur ‘n vrou wat beweer sy is onregmatig in hegtenis geneem nadat sy per ongeluk in ‘n eenrigtingstraat in Centurion beland het.
Mariska Batt, woordvoerder van AfriForum, sê sy het per ongeluk in die eenrigtingstraat gedraai.
“Dit was my eerste keer op daardie pad en ek was verward. ‘n Motoris het sy hoofligte vir my geflits en ek het dadelik omgedraai. Die Lyttelton-polisie het my afgetrek en oor nalatige en roekelose bestuur in hegtenis geneem,” vertel sy.
Volgens Batt wou die polisie nie na haar verduideliking luister nie en het haar onverwyld na die Garsfontein-polisie se aanhoudingselle gevat.
“Die een polisieman het my voertuig bestuur terwyl ek in die passasierskant gesit het. Hy het twee keer na boodskappe op sy selfoon gekyk terwyl hy my motor bestuur het,” het Batt gesê.
Batt sê sy is byna drie uur lank in ‘n donker sel aangehou sonder ‘n stoel met net ‘n “vrot kombers” as sy sou koud kry.
Batt is later op borgtog vrygelaat en moet op 28 April in die hof verskyn op aanklag van nalatige en roekelose bestuur.
Sy sê die papierwerk vir haar eis is afgehandel.
“Die dokumente word vandag by die minister afgelewer.”
Adjudant-offisier Hero Gumbu, woordvoerder van die Lyttelton-polisie, het die inhegtenisneming bevestig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
