Ouma gewurg vir R100
’n 86-jarige vrou is Vrydagoggend deur ’n “betroubare” man oorval en gewurg vir R100 en ’n selfoon. Sy het die aanval oorleef.
‘n Bejaarde vrou van Rietfontein is Vrydagoggend in haar huis oorval en aangerand deur ‘n man wat sy al vir tien jaar lank ken.
Die 86-jarige vrou, wie anoniem wil bly, sê die man het haar omstreeks 11:00 oorval en gewurg.
“Ek ken hom al byna tien jaar. Hy het so nou en dan in my tuin gewerk en ek het selfs al geld vir hom geleen. Dit was juis waaroor hy my wou sien. Hy het my Donderdag besoek en gesê hy sal die R2 000 vir my bring wat hy my skuld. Hy het die Vrydagoggend opgedaag net nadat ek en my buurman klaar inkopies gedoen het,” het die duidelik geskokte vrou gesê.
Terwyl sy rustig met die man gesels het, het sy nie vir een oomblik gedink hy sal haar aanval nie. In die tien jaar wat sy hom ken het hy nog nooit enige aggresie teenoor haar getoon nie.
“Vriende van Pretoria-Noord was dieselfde oggend op pad om by my te kom kuier. Ek het vir die buurman gesê hy moet sommer die hek oop los want my vriende gaan binnekort hier wees. Nadat die buurman gery het, het die man my gevra om binne die huis te gaan want hy wil nie die geld vir my so oop en bloot in die straat gee nie.”
Die twee het na die kombuis gestap toe die “betroubare” man skielik in ’n aanvaller verander. Hy het haar aan die keel gegryp en begin wurg terwyl hy haar na die slaapkamer sleep.
“Hy het vir my gesê as ek vir hulp roep gaan hy my doodmaak. Ek het net stil gebly. Hy het ’n kabel gevat en my hande agter my rug vasgebind en ’n bloes gevat en in my mond gedruk. Al wat hy gevat het is R100 en my selfoon.”
So vinnig soos wat die man in die huisgekom het, net so vinnig het hy weer verdwyn.
Die vrou het daarin geslaag om haarself los te wikkel en die slaapkamerdeur te sluit net vir ingeval haar aanvaller steeds in haar huis was. Sy het onmiddelik vir CrimeStop gebel.
“Teen die tyd wat ek die kamerdeur gesluit het, glo ek die man was reeds weg. ’n Rukkie later het my vriende opgedaag en die oop huis opgemerk en buite die huis na my begin soek. Toe hulle my nie kry nie het hulle my seun gaan roep wat langs my woon. Kort daarna het hulle my agter geslote deure gekry het.”
Behalwe die feit dat die man haar aan die keel gegryp en gewurg het, het hy haar nie verder beser nie.
Adjudant-offisier Dave Muller, polisie-woordvoerder, het gesê ’n saak van huisroof word ondersoek. Daar is nog geen arrestasies gemaak nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
