NewsSchools

Matriekeindeksamen: Voorbereiding met KI as hulpmiddel

Kunsmatige Intelligensie se invloed op die Klas van 2026 sal eers ná die uitslae blyk uit antwoordtendense. Besseling waarsku egter dat ongelyke internettoegang ongelykheid in KI-gebruik veroorsaak. Intussen dien vanjaar se ervarings as voorbereiding vir die Klas van 2027.

Daar is nog net enkele dae oor voordat die Klas van 2026 hul plekke vir die Graad 12 (NSS) Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen op 13 Oktober inneem. Die laaste fase van voorbereiding is vir leerders en ouers ’n belangrike tyd, met hersiening en die vaslegging van kennis en vaardighede nou op die voorgrond.

Volgens Maryna Besseling, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, moet leerders in hierdie finale voorbereidingstyd seker maak dat hulle nie net op een bron of metode vir studie staatmaak nie.

Kunsmatige intelligensie kan deel van dié voorbereiding wees, maar Besseling beklemtoon dat dit bloot nog ’n hulpmiddel is.

“Soos ander matriekhulpmiddels, waaronder voorbeeldvraestelle, werkboeke en opsommings, kan KI gebruik word om inhoud te hersien en begrip te versterk. Leerders behoort egter soveel moontlik beskikbare hulpbronne te benut terwyl hulle seker maak dat die werk self deeglik bemeester word,” glo Besseling.

Sy glo KI kan veral as ’n tutor of hulpmiddel gebruik word wanneer leerders inhoud hersien. “Dit kan help om konsepte te verduidelik, vrae te genereer of moeilike werk vanuit ’n ander hoek te benader. Die uiteindelike doel van voorbereiding bly egter dat die leerder self oor die nodige kennis en vaardighede beskik.”

Die gebruik van KI vir assessering bring ander oorwegings mee.

Besseling sê onderwysers leer deur die loop van die jaar ’n leerder se individuele skryf- en kommunikasiepatroon ken. Dit sluit unieke taalgebruik, stelwyses, algemene foute en die vlak waarop die leerder normaalweg kommunikeer in. “Wanneer ’n leerder se werk skielik sterk van dié bekende styl afwyk, kan dit opgemerk word,” meen sy.

Dit kan ook opvallend wees wanneer dieselfde KI-gegenereerde antwoord deur ’n groot aantal leerders ingedien word.

Volgens Besseling kan leerders KI wel gebruik om navorsing te ondersteun, maar die onverwerkte gebruik van KI-antwoorde kan as plagiaat beskou word.

“Plagiaat is ’n ernstige oortreding wat ’n negatiewe uitwerking op ’n leerder se punte kan hê.”

Daar is volgens haar nie tans spesifieke riglyne oor die gebruik van KI tydens voorbereiding vir assessering nie.

Beleidsdokumente en regulasies wat na plagiaat in assessering verwys, kan egter ook in die konteks van KI van toepassing wees.

“Die rol van KI in onderwys is terselfdertyd besig om vinnig te ontwikkel. Internasionaal word daar toenemend gekyk na KI as ’n hulpmiddel vir sogenaamde lessenaarnavorsing, onder meer om artikels en publikasies op te spoor,” wys sy uit.

Suid-Afrika is volgens Besseling steeds besig om na hierdie benadering te beweeg, terwyl skole hul eie begrip van verantwoordelike KI-gebruik ontwikkel.

“Die kern van assessering bly egter onveranderd: dit moet bepaal of ’n leerder spesifieke inhoud verstaan, vaardighede kan toepas en vrae binne die vereistes van ’n bepaalde vakdissipline kan beantwoord. ’n Antwoord wat bloot deur KI gegenereer is, toon nie noodwendig dat die leerder die werk verstaan of dit in ’n ander konteks kan toepas en verduidelik nie.”

Besseling wys daarom daarop dat enige inhoud wat deur KI gegenereer word, voortdurend aan geloofwaardigheid en korrektheid gemeet moet word. ’n Leerder kan KI as bron gebruik, maar eie interpretasie bly die kern.

Vir die Klas van 2026 is daar ook ’n duidelike grens tussen voorbereiding en die eksamenlokaal.

“Die reëls en regulasies vir die Graad 12-NSS-eksamen verbied leerders om selfone in die lokaal in te neem. Slimfone is ongeveer twee jaar gelede ook by die lys van verbode toestelle gevoeg. Direkte toegang tot aanlyn bronne tydens die eksamen is gevolglik nie toegelaat nie.”

Sy verduidelik skole en onderwysers ondersoek tans opvoedkundige kwessies op die gebied van KI.

Besseling sê riglyne vir verantwoordelike gebruik word toenemend ontwikkel en toegepas.

Sy verwag ook dat aanpassings aan die vorm en formaat van assessering uiteindelik nodig sal wees om rekening te hou met die bestaan en gebruik van KI.

Vrae kan in die toekoms moontlik anders geformuleer word om vaardighede te toets wat nie bloot deur ’n KI-antwoord gedemonstreer kan word nie.

Vir leerders wat nou hul finale voorbereiding doen, bly die boodskap volgens Besseling dat alles geleer moet word en dat hulle nie slegs op sekere inhoud moet fokus in die hoop dat dit in die eksamen voorkom nie.

Sy wys daarop dat die omvang van KI se invloed op die Klas van 2026 sal eers ná die uitslae duideliker word. “Tendense in antwoorde in spesifieke vraestelle en vakke kan moontlik ’n aanduiding gee van hoe intensief die tegnologie gebruik is.”

Besseling wys terselfdertyd daarop dat toegang tot KI nie vir alle leerders dieselfde is nie, aangesien daar steeds groot gemeenskappe is waar internetdekking ontbreek.

“Die ervaring van die Klas van 2026 kan daarom ook deel vorm van die voorbereiding vir die Klas van 2027, terwyl skole en onderwysers voortgaan om hul benadering tot KI en assessering aan te pas.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button