Geliefde Liggiefees bring weer hoop
Oor die afgelope 16 jaar het die Jakaranda Liggiefees van ’n kleiner gemeenskapsgeleentheid tot ’n geliefde Kersfeestydtradisie op Pretoria se kalender gegroei. Hoewel die fees uitgebrei het, bly die kern daarvan onveranderd: om mense bymekaar te bring en terselfdertyd ’n verskil in kinders se lewens te maak.
Die Jakaranda Liggiefees in Pretoria is veel meer as ’n viering van Kersliggies en feestelike vermaak. Dit is ’n geleentheid waar gesinne saamkom, herinneringe skep en terselfdertyd ’n betekenisvolle bydrae tot die lewens van kinders lewer.
Volgens Charlene Grobler, uitvoerende hoofbeampte van die Jakaranda- en Louis Botha Kinderhuise, maak die ondersteuning wat tydens die fees ontvang word, die lewe soveel makliker vir hul kinders.
“Die fondse wat tydens die Jakaranda Liggiefees ingesamel word, maak ’n direkte en tasbare verskil in die daaglikse lewe van ons kinders, aangesien die staat se subsidie slegs 25% van ons uitgawes dek,” sê Grobler.
Sy verduidelik die inkomste help om noodsaaklike uitgawes soos kos, klere, mediese sorg, vervoer en opvoedkundige ondersteuning te dek.
Dit stel die kinderhuise ook in staat om geleenthede vir sport, kultuur, terapie en ontspanning aan te bied. Hierdie aktiwiteite speel ’n belangrike rol in die kinders se ontwikkeling, omdat dit hulle help om selfvertroue te bou, talente te ontdek en die vreugde van kindwees te ervaar.
“Elke kaartjie wat gekoop word, elke besoek aan die fees en elke bydrae help ons om ’n veilige, liefdevolle omgewing te skep waarin ons kinders kan groei, genees en hul volle potensiaal bereik,” verduidelik sy.

Grobler beklemtoon dat die fees se betekenis verder strek as die liggies wat gedurende die feestyd pryk.
Soos Grobler dit stel: “Die Liggiefees is waar Kersliggies, gemeenskap en hoop bymekaarkom.”
Vanjaar wil die kinderhuise ’n eenvoudige, maar kragtige boodskap aan besoekers en die breër gemeenskap oordra: Elke kind verdien die geleentheid om in ’n beter môre te glo.
“Die Liggiefees herinner ons daaraan dat selfs die kleinste lig ’n verskil kan maak wanneer ons dit saam laat skyn,” sê sy.
Sy wys daarop dat kinders wat moeilike omstandighede beleef het, benodig liefde, veiligheid, ondersteuning en geleenthede om hul vermoëns te ontwikkel.
Die fees bied aan die publiek ’n manier om tot hierdie doel by te dra. Grobler hoop dat besoekers nie net die pragtige versierings sal waardeer nie, maar ook die groter betekenis van hul eie deelname om andere te help, sal raaksien.
Die geleentheid bied iets vir die hele gesin, met pragtig versierde huise, Kersliggies, kos, vermaak en ’n warm feestelike atmosfeer. Vir talle gesinne het dit ’n jaarlikse uitstappie geword waar kinders die Kersgees kan ervaar en geliefdes saam tyd deurbring.
“Kom ervaar die Liggiefees met jou hart, nie net met jou oë nie,” nooi Grobler besoekers uit. “Jy gaan dalk net vir ’n aand se Kersvreugde kom, maar jy help om ’n lig te laat skyn vir ’n kind.”
– Die Pretoria Liggiefees vind vanaf 27 November tot 23 Desember daagliks van 18:00 tot 22:00, by Talitha Kumistraat 1, Derdepoort, Pretoria plaas. Die geleentheid is kontantloos, met kaartjies wat vanaf Oktober aanlyn beskikbaar sal wees.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
