Huisbraak in Ninapark vasgevang op kamera
Dit het die verdagtes net ses minute geneem om die deur af te breek, waardevolle items te steel en weg te jaag.

‘n Veiligheidskamera het Woensdagoggend ‘n huisbraak in Ninapark, waar verskeie waardevolle items gesteel is, op video vasgevang.
Volgens Johan Roux (53), huiseienaar, het die voorval omstreeks 10:45 plaasgevind en het dit vier verdagtes net ses minute geneem om die voordeur oop te breek, ‘n paar waardevolle items te neem en weg te jaag.
Roux was by die werk toe die voorval plaasgevind het.
“Sover ons kon agterkom is televisies en hul afstandbeheerders, asook van my vrou se juweliersware gesteel. Ons kon nog nie vasstel presies wat alles weg is nie, omdat die forensiese-span vandag eers ‘n ondersoek kom doen het. Ons kon nog nie al die skade bepaal nie,” het Roux gesê.
Sedert hy in 1993 in sy huis ingetrek het, het Roux nog nooit voorheen ‘n huisbraak gehad nie.
“So paar jaar gelede het iemand oor ons muur gespring en ‘n fiets en ‘n paar ander items gesteel, maar ons het nog nooit voorheen met ‘n huisbraak probleme gehad nie.”
Voor die inbraak het die verdagtes glo ‘n uur vroeër verby die huis gery, by die oprit ingery en ‘n rukkie daar vertoef, voordat hulle weer weggery het.
Tydens die huisbraak het twee van die verdagtes die huis ingegaan, terwyl twee ander in die motor gewag het, het Roux gesê.
Roux het gesê die algemene optrede van die polisie was baie goed.
Volgens polisiewoordvoerder warrant officer Matthews Nkoadi, is die polisie nie bewus van die voorval nie.
Kyk die video hier:
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
