CrimeLocal newsNews

Nóg ’n fietsryer by monument aangeval

Jong fietsryer by Voortrekkermonument aangeval.

‘n Tiener van Centurion is verlede week deur twee mans oorval, vasgebind en geslaan terwyl hy by die Voortrekkermonument fiets gery het.

Hulle het die 16-jarige seun toe in ‘n sloot gegooi en met sy bergfiets, ‘n PYGA Carbon 650B, weggejaag.

Sy pa, wat net as Mnr Fikkert bekend wil wees, sê sy seun is stukkend en seer, maar het gelukkig geen bene gebreek nie. Hy herstel by die huis.

“Hierdie is onaanvaarbaar. My seun moet nou vir berading gaan.”

Die seun is nie die eerste slagoffer in die omgewing van die monument nie. Op 26 Maart is ‘n 19-jarige Deense fietsryer aangeval terwyl sy by die monument fiets gery het.

Twee mans het haar oorval terwyl sy vir ‘n wedren geoefen het. Een het haar op die grond vasgepen terwyl sy makker die fiets gegryp het.

Die aanvallers het met die fiets verdwyn. Die fietsryer het grootliks ongedeerd daarvan afgekom.

Sonja Lombard, besturende direkteur van die Voortrekker Monument en Natuurreservaat sê fietsryers moet versigtig wees.

“Dié aanvalle gebeur elke keer op die afgeleë dele van die reservaat. Ons vra dat elke fietsryer wat die monument besoek versigtig sal wees en afgeleë gebiede vermy of in groepe ry.”

Sy blameer sluipslapers vir die aanvalle.

“Ons vermoed dat dit sluipslapers is, wat aan die noordelike kant van Fort Schanskop woon. Hulle is vermoedelik almal buitelanders wat onwettig in Suid-Afrika is.”

Ná die jongste aanval het sekuriteitspersoneel ‘n foto op die toneel gekry, vermoedelik van een van die seun se aanranders.

Lombard sê daar is planne om van die sluipslapers ontslae te raak.

“Ons het ‘n paar jaar gelede saam met Tshwane se metropolisie gewerk en ‘n skoonmaakveldtog geloots. Verskeie sluipslapers is uit die natuurreservaat verwyder en vir meer as ‘n jaar was daar geen aanvalle nie. Ons beoog om nou dieselfde te doen.”

Die jongste aanval het ook ‘n invloed op berfietswedrenne in die omgewing.

“Ons het Pierre Nel, bekende bergfietsryer, gevra om die roete aan te pas wanneer daar weer bergfietswedrenne gehou word sodat die afgesonderde gebiede vermy word,” sê Lombard.

Fikkert sê hy hoop die aanval op sy seun sal tot daadwerklike stappe lei om ‘n herhaling van hierdie soort misdaad te vermy.

“Hopelik word hierdie aanvalle gestop, dan hoef niemand weer seer te kry nie.”

Polisie van Pretoria-sentraal ondersoek die aanval en versoek enigiemand met inligting oor die saak om 012-393-1000 te skakel.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button