Man in maag geskiet
’n 21-jarige man het ’n noue ontkoming gehad toe ’n rower hom in die maag vir ’n selfoon geskiet het.
’n Jong man van East Lynne is Saterdagaand vir sy selfoon in die maag geskiet.
Jaun-Pierre Stoltz (21) se ma Denise van der Heever sê hy is na die Steve Biko akademiese hospitaal gehaas waar hy steeds behandel word.
Stoltz is buite gevaar maar nog in erge pyn, sê sy.
Vier gewapende mans het Stoltz Saterdagaand omstreeks 21:00 in Lanhamstraat oorval in ’n poging om hom van sy selfoon te beroof.
“My seun en sy vriend was op pad na ’n winkel nie ver van ons huis af nie. Vier mans het in ’n wit Volkswagen Polo by hulle stilgehou en drie het uit die voertuig gespring,” sê Van der Heever.
Een van die rowers het ’n mes by hom gehad en die ander een ’n vuurwapen.
“Hulle het my seun rondgepluk en hy het terugbaklei. Sy vriend het om hulp geroep wat die rowers vermoedelik skrik op die lyf gejaag het. Die rower met die vuurwapen het twee skote afgevuur voordat hulle almal in die Polo gespring en weggejaag het,” vertel sy.
Stoltz en sy vriend is huis toe, voor hy op die sypaadjie ineengestort het.
“Die koeël het hom net onder sy naeltjie getref en is aan die ander kant uit. Die vriend het nie geweet my seun is raak geskiet voordat hy by die hek in mekaar gesak het nie,” sê Van der Heever.
Polisie woordvoerder Kaptein Coba Brits het Maandagmiddag bevestig dat die polisie ondersoek instel.
“Die polisie het die saak geopen omdat die slagoffer na die hospitaal gevat is. Die polisie het ook met verskeie ooggetuies gepraat.”
Van der Heever en Stoltz kom oorspronklik van Port Elizabeth af. Van der Heever woon slegs sewe maande in Pretoria terwyl Stoltz sowat twee jaar gelede saam met sy grootouers na Pretoria verhuis het.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
