CrimeLocal newsNews

Pa se pleidooie kon haar nie red

Die pa van die vermoorde, Nicolene Schreuder, het al jare gelede aan vriende gevra om tog net vir sy dogter die regte man te kry, want sy was glo keer op keer in verhoudings waar sy mishandel is, betrokke.

Hartverskeurende detail rondom die onlangse skietdood van Nicolene Schreuder, oos van Pretoria, het die afgelope week aan die lig gekom.

Haar desperate pa het sowat ses jaar gelede gesmeek: “Soek asseblief vir my dogter ‘n goeie man.” Dit was nadat sy dogter vir die soveelste keer in ‘n gewelddadige verhouding betrokke was.

Maar oud-brigadier Koos Schreuder, wat ‘n bevelvoerder in die destydse Suid-Afrikaanse polisiediens was, se smeekgebede en pleitboodskappe aan sy vriende en kennisse, het nie sy 35-jarige dogter se lewe gered nie.

Nicolene is verlede Woensdagoggend na bewering deur haar verloofde, Dawid Connoway (39), by haar werkplek in Rubensteunlaan in Moreletapark doodgeskiet.

Nicolene se pa, wat goed bevriend was met van die werknemers by die Bidvest Protea Coin-groep, het glo gereeld gekla dat sy dogter “altyd met die verkeerde mans deurmekaar raak en dat hy bid vir die regte man in haar lewe”.

Net ‘n paar jaar voor haar dood, is haar pa – wat baie trots was op sy slimkopdogter – onverwags aan ‘n hartaanval oorlede.

Connoway het haar glo, net soos haar vorige kêrels, ook gereeld met sy vuiste bygedam en haar met woorde gekwets, wat soos metaalskerwe in haar siel vasgesteek het.

Tog het Nicolene hom keer op keer teruggevat – al wou sy glo ‘n tydelike beskermingsbevel teen hom verkry.

Hoewel Nicolene die verlowing sowat drie weke voor haar dood verbreek het, het die twee besluit om weer te probeer. Daarom was dit nie vreemd dat Connoway daardie oggend omstreeks halfnege op sy groenerige motorfiets voor haar kantoorgebou stilhou nie.

Sy het die trappe afgekom en op die stoep, voor die kantoor, het hy haar gesoengroet. Toe het hy sy rewolwer uitgehaal en haar geskiet.

Nicolene, wat ‘n regsgraad aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in Johannesburg verwerf het, het tot 2009 as regsverteenwoodiger by die Bidvest Protea Coin-groep gewerk.

“Sy het vining opgang in haar werk gemaak en is ook bevorder,” het ‘n bron aan Rekord gesê. Maar sy het skielik bedank om met ‘n boer van Potchefstroom in die Noordwes-provinsie te trou.

Die huwelik het ‘n skamele agt maande gehou nadat die man, wie se naam nie aan Rekord bekend is nie, haar glo ook emosioneel en fisiek mishandel het.

In 2012 het sy Connoway, wat ‘n gestremde kind uit ‘n vorige huwelik het, ontmoet.

Sy het glo ook gesukkel om werk te kry en toe sy die geleentheid gebied word om by Cura Health Insurance as ‘n persoonlike assistant aan te sluit, het sy dit aangegryp.

Haar kollegas ken Connoway en het hom as ‘n vriendelike man bestempel.

Een van Connoway se vriende het hom beskryf as ‘n “oulike ou wat versot was op sy motorfiets. Hy het ook sowat tien dae voor die skietery aan my gesê dat as ‘n man ‘n goeie vrou ontmoet, moet hy maar met haar trou. Ek vermoed hy het na Nicolene verwys.”

Rudolph Ackermann, haar baas van die afgelope agt maande, het Nicolene beskryf as ‘n oulike vrou; altyd gaaf en baie opreg. “As daar probleme in die verhouding was, het ons nie daarvan geweet nie. Sy het gelukkig gelyk.”

‘n Vriendin van Nicolene, wat gereeld saam met haar en Connoway gekuier het, vertel dat dit vir Nicolene baie moeilik was om ‘n huis met sy gestremde seun te deel.

Sy het Yorkshire Terriers gehad waarop sy glo versot was. “Die seun het een van haar Yorkies doodgery. Sy was gebroke.”

Connoway het haar daarvan beskuldig dat sy hom glo verskeie kere met ander mans sou verkul, maar vriende sê dat dit Connoway was wat ‘n dwalende ogie gehad het, en nie Nicolene nie.

Op 7 April is ‘n foto geplaas van ‘n stralende Schreuder en Connoway wat styf teen mekaar sit. Op 17 April het hy egter foto’s van hom en ‘n ander ouerige blonde vrou geplaas. Hulle was in ‘n intieme omhelsing in ‘n kuierkroeg in Pretoria.

Van sy Facebook-vriende wou weet of dit nie Connoway se “vroutjie” sou ontstel nie. Hy het geantwoord: “Ek hoop so.”

Op ‘n vraag wat “sy” gesondig het, het Connoway gereageer: “Sy gaan weg saam ander mans. Tit for tat. Fair? Hulle sê mos moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Nee wat. Dis long gone.”

Twee dae tevore het hy op Facebook geskryf: “It’s not over until the fat lady sings?.?.?. an aint hearing no singing.”

Dit is nie duidelik waarom hulle die verhouding weer hervat het nie, maar op daardie dag – haar doodsdag – was die probleme skynbaar uit die weggeruim. Na die moord het Connoway op sy groen motorfiets gevlug.

Die polisie het ‘n grootskaalse soektog van stapel gestuur en hy is laat Woensdagaand op sy ma Elize (55) en stiefpa Hendrik Fourie (60), se plaas tussen Rayton en Bronkhorspruit, in hegtenis geneem.

Die egpaar is Woensdagaand gearresteer op ‘n klag van dwarsboming van die gereg nadat hulle Connoway glo versteek het toe die polisie na hom gesoek het weens die moord op Nicolene.

Adjudant-offisier Dave Miller, woordvoerder van Garsfontein polisie, sê hy was vuil, het na drank geruik het en onsamehangend gepraat.

Die polisie het ook op drie gelisensieerde en een ongelisensieerde vuurwapen op die plaas gevind.

Connoway het Maandagoggend op aanklag van moord in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.

Lees ook: Man apears over fiancé’s killing

Motorbike-killer and parents arrested after murder

Shot woman identified

Ex kills woman in east

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button