Vrou se geliefde skape gesteel
'n Faerie Glen inwoner se troetelskape is uit hul perdestal gesteel.
Die diefstal van 10 troetel-skape het groot hartseer vir ‘n vrou van Pretoria-Oos gebring.
Antoinette Henning sê sy het die diere almal hans grootgemaak. Hulle is op 15 April in die vroeë oggendure gesteel uit ‘n perdestal op ‘n kleinhoewe op die Boschkop-pad.
Sedertdien is sy onverpoosd op soek na die skape.
“Ek is verskriklik hartseer. Hulle is soos my eie kinders Ek het elkeen van hulle met die bottel grootgemaak omdat hulle ‘weeskinders’ was,” sê Henning.
“Hulle is almal Dormers met lang sterte en sal 10 Mei 2015, op Moedersdag, ‘n jaar oud wees,” het Henning bygevoeg.
Die tien skape bestaan uit sewe gekastreerde ramme en drie ooie.
“Ek boer nie met skape nie en ek bly ook nie in die omgewing nie. Ek bly in Faerie Glen en het die skape as troeteldiere saam by iemand aangehou,” vertel Henning.
“Bedags het hulle op die kleinhoewe gewei en smiddae het ek hulle laat inkom stal toe om aan korrels te smul voordat ek elkeen met liefies en drukkies bederf en nag gesoen het.”
Henning sê sy het nog nie tou opgegooi in haar soektog nie.
“Ek is al na verskeie veilings om te kyk of hulle nie dalk daar beland het nie. Ek het ook die Cullinan-veediefstaleenheid genader om hulp.”
Henning sê sy besef dat gesteelde skape meestal verkoop of geslag word, maar sy hoop steeds dat haar ‘Noebies’, soos sy hulle noem, aan haar terugbesorg sal word.
“‘n Groot beloning wag op die een wat my positiewe inligting kan verskaf om my skapies terug te kry.”
Haar selnommer is 083-307-3728. Die Cullinan-veediefstaleenheid kan by 071-363-3746 bereik word.
Lees ook: Pasop vir swendelaar in Pretoria
“Kragopwekker-diewe” binne twee dae agter tralies
Erasmuskloof hit by cable theft
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
