Seun en bejaarde ma jaag rowers
’n Seun en sy bejaarde ma het Dinsdagmiddag vier gewapende rowers vanaf East Lynne na Colbyn in ’n hoëspoed-jaagtog agtervolg. Drie van die rowers is vasgetrek.
Dit is nie elke dag dat ‘n 39-jarige man saam met sy bejaarde 73-jarige ma vier gewapende rowers jaag nie, maar dit is presies wat Tony Viviers en sy ma Dinsdagmiddag gedoen het.
Viviers se ma het gevra om anoniem te bly vir veiligheidsredes.
Volgens ‘n dapper Viviers het hy sy ma omstreeks 13:00 Dinsdagmiddag in East Lynne gaan oplaai vir ‘n bederfdag in Menlyn. Op pad Menlyn toe het Viviers ‘n verdagte silwer Corsa in Stormvoëlweg opgemerk.
“Die Corsa het half in die pad gestaan toe sien ek drie mans uit ‘n besigheid uit hardloop. Toe merk ek ook die bestuurder van die Corsa op. Twee van hulle het vuurwapens gehad. Ek het vir my ma gesê hier is ‘n roof besig om plaas te vind. Al wat sy gesê het is ‘jy weet wat om te doen’ en toe begin ons hulle jaag,” het Viviers gesê.
‘n Jaagtog tussen Viviers, sy bejaarde ma en die vier gewapende rowers het begin.
Die rowers het probeer om Viviers te verloor, maar het nie besef Viviers ken die Moot-area soos die palm van sy hand nie. “Ek het presies geweet hoe hulle wil ry en waarheen hulle op pad is. Ons het hulle aanhou jaag. Die rowers het selfs teen aankomende verkeer in gejaag in hul poging om weg te kom.”
Toe beide voertuie in CR Swartweg was het Viviers besluit om stadiger te ry uit vrees dat die rowers hulle sal opmerk. “Tydens die jaagtog het een van die rowers twee keer omgedraai en ‘n vuurwapen in ons rigting gerig. Ek was bang vir my ma se veiligheid en wou nie dat hul agterkom ons agtervolg hulle nie, maar teen die tyd wat ons in Colbyn gekom het, was dit te laat. Hulle het ons opgemerk.”
Die Corsa het in Colbyn afgetrek, drie van die rowers het uit die voertuig gespring en weggehardloop. Die vierde rower het in die Corsa weggejaag.
“Ek het besluit daar is nie ‘n manier wat ek hierdie ouens gaan los nie. Ek het agter een van die wat gehardloop het gejaag waarna hy homself teen die polisie vasgehardloop het. Die ander twee is later die middag ook deur die polisie vasgetrek. Die vierdie man is nog op vrye voet, maar die polisie het my verseker hulle sal hom vang,” het Viviers gesê.
Die drie verdagtes wat te voet gevlug het, is met die hulp van Kilnerpark– en Quatro-sekuriteit vasgetrek.
Viviers het gesê dit is tyd dat mense vir mekaar opstaan en nie ‘n blinde oog draai as hulle kriminele aktiwiteite opmerk nie.
Hy het gesê sy ma het die jaagtog baie geniet op haar bederfdag en is trots op hom dat hy nie teruggestaan het nie.
Lees ook: Drie aangekeer vir gewapende roof
Baksteen-slagoffer steeds in ‘n koma
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
