Brief aan vermoorde verloofde geskryf
Die man wat sy eks-verloofde in April doodgeskiet het, het 'n brief vir haar geskryf.
Die sogenaamde motorfiets-skieter, Dawid Connoway (39), het vir sy vermoorde verloofde ‘n brief uit die tronkselle geskryf.
“Ek is so jammer, Nicolene. Nie jy of jou familie, of my familie het dit verdien nie. Ek weet nie wat my besiel het nie. My beste vriend is nie meer hier nie.”
Dit is nou al twee weke sedert Pretorianers geruk is deur die skietdood van Nicolene Schreuder (35).
Connoway het haar na bewering sowat halfnege daardie Woensdagoggend voor haar kantoor in Rubensteinweg in Moreletapark gesoen en toe doodgeskiet waarna hy op sy groen motorfiets weggejaag het.
Jacques Henrico (39), een van Connoway se beste vriende, weet steeds nie wat op daardie dag deur sy kop gegaan het nie, want die man (sy laerskoolmaat) is nie ‘n gewelddadige ou nie, het Henrico Dinsdag aan Rekord vertel.
Hy het Connoway elke dag na Schreuder se dood by die selle van die Garsfontein-polisiekantoor besoek. Vrydag, Saterdag en Sondag. Dit is toe dat Connoway die briewe vir Henrico gewys het.
Enrico het die geskrifte met sy selfoon afgeneem. ‘n Brief aan Nicolene, aan die “wit man op die toneel wat die moord aanskou het”, aan sy ma en “aan die Indiër-polisieman” wat vir hom gebid het.
“Hy (Dawid) kan nie onthou wat hy die ure voor sy inhegtenisneming gedoen het nie. Die polisie het ook beweer dat hy na drank geruik het. Dit is vir my onverklaarbaar. Dawid het bykans nooit gedrink nie,” het Henrico gesê.
“Ek weet nie waar hy was nie. Niemand sal weet nie. Ek wil net aan die mense daarbuite sê: “Dawid is nie ‘n monster nie. Dawid is ‘n mens. Ek sal nie my rug op my vriend keer nie. Toe ek nie geld of kos gehad het nie, het hy vir my gesorg.”
“Dawid is nie ‘n monster nie. Ek kan nie sy gedrag goedpraat nie, maar hy bly my vriend.”
Henrico en Connoway het by die Laerskool Kwaggasrand in Pretoria-Wes ontmoet. “Hy was die vredemaker. Hy kon nie geweld verdra nie.”
Voorbok van sy eie klein bende. Klaskaptein. Later skoolprefek.
“Ek het hom vertrou. Hy het my altyd van goeie raad bedien. Hy is slim en hardwerkend. Hy het net gewerk en dan was sy Brahman-beeste, waarmee hy op sy plaas net buite Bronkhorsspruit, geboer het, soos sy eie kinders.”
Connoway het ‘n seun uit sy eerste huwelik.
Die naam van die kind word op regsadvies weerhou. “Die kind, waarna verkeerdelik verwys is, as verstandelik gestrem, het onder moeilike omstandighede by sy ma gebly. Dawid, of soos ek hom noem, Dawie, het die kind in sy sorg geneem en het al sy vaderlike liefde op hom uitgestort.”
Daar was ‘n aanrandingsklag teen Dawid. “Hy het die kind se ma se nuwe kêrel angerand.”
Dit was lank gelede. “Hy sou nie vir Nicolene geslaan het nie. Ek het dit nooit gesien. En ek het baie by hulle op die plaas gaan kuier,” vertel Henrico.
“Maar hulle het mekaar verbaal verniel. Nicolene het altyd iets slegs oor sy familie te sê gehad. Dit is waar; hulle het mekaar met woorde verniel.”
Schreuder en Connoway? Het hulle mekaar liefgehad?
“Dit was liefde met die eerste oogopslag. Hy was mal oor haar en hy het altyd gesê sy is die tipe vrou waarmee hy sou trou.”
Die twee het mekaar in 2012 ontmoet. “Ek weet nie presies waar nie, maar dit sou nie in ‘n kroeg gewees het nie. Dawid het nooit in kroeë rondgehang nie.”
Schreuder was in daardie stadium werkloos en sy het by hom in sy plaashuis ingetrek. Die kind was ook daar. “Nicolene en die kind het glad nie oor die weg gekom nie. Dit het baie rusies tussen haar en Dawid veroorsaak.”
Schreuder het, voordat sy as persoonlike assistent by Cura Health Insurance begin werk het, ‘n klein blom- en groentetuin aan die gang gehou en al haar aandag aan haar twee Yorkshire Terriers gewy. “Sy was mal oor daardie honde,” het Enrico vertel.
“Ek is eerlik; ek het nooit baie van Nicolene gehou nie, maar ons het een gemeenskaplike belangstelling gehad — ons liefde vir honde.”
Enrico het self nege worshonde wat aanhoudend om sy voete kef.
En Connoway was die gemeenskap se barmhartige Samaritaan. Hy het kos aangedra vir die wat honger was en het gehelp waar hy kan. Selfs vir ‘n bedlêende, verswakte bejaarde gaan kuier.
Die naweek voor haar daad het daar ‘n bekgeveg tussen Schreuder en Connoway uitgbreek.
“Nicolene het twee televisiestele besit en Dawid het een vir sy pa gegee. Hulle het vreeslik baklei. Nicolene wou net nooit sy familie aanvaar nie. Dawid en Nicolene is toe uitmekaar. Sy het toe ook uitgetrek.”
Schreuder het by haar ma in Alberton gaan bly en Connoway het vermakerig met ‘n ouer, blonde vrou op sy Facebook-blad gespog.
Vier dae voor haar dood, het Schreuder op Connoway se drumpel gestaan en daardie naweek het hulle besluit om die verhouding te hervat.
Die dag voor haar dood, is Schreuder terug na haar ma om te pak.
Die Woensdag is sy dood.
Connoway was glo onsamehangend en het na drank geruik toe die polisie hom op sy ma, Elise Fourie, en stiefpa, Hendrik, se plaas vasgetrek het.
Die egpaar is van dwarsboming van die gereg aangekla.
“Ek ken hulle goed. Tannie Elise-hulle wou hom nie wegsteek nie. Hulle wou hom eers laat bedaar en was van plan om hom daardie volgende oggend eers na die haarkapper te neem (sodat hy ordentlik kon lyk) en daarna sou hulle hom aan die polisie oorhandig het.”
Connoway is intussen na die Kgosi Mampuru-gevangenis oorgeplaas en verskyn weer Maandag in die Pretoriase landdroshof.
“Ek sal Dawid nie oordeel nie. Ek sal tydens elke hofverskyning probeer om daar wees — net soos hy nog altyd daar was vir my.”
Lees ook: Pa se pleidooie kon haar nie red
Man apears over fiancé’s killing
Motorbike-killer and parents arrested after murder
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.



