Vrou wag in pyn by hospitaal
Familie en vriend bang dat vrou haar lewer gaan verloor nadat hospitaalpersoneel lank gevat het om haar te help.
‘n Vrou van Valhalla moes verlede week vyf uur lank in pyn sit en wag vir behandeling in die Kalafong-hospitaal.
Nadat Heather Dopsin (39) uiteindelik op ‘n drup geplaas is, is sy aan haar eie genade oorgelaat, vertel haar vriendin Renee Woest.
Toe Dopsin se verloofde ‘n paar uur later opdaag, was die drup losgewikkel en sy het halflyf uit die bed gehang.
“Heather het verlede Sondag begin kla oor pyn in haar lyf en sy was baie swak. Ons het nie geweet wat skort nie en het ‘n ambulans ontbied,” sê Woest.
“Die ambulans het na ‘n paar ure opgedaag en haar hospitaal toe gebring.”
“Die suster het gesê ek moet Heather in die hospitaal se bed in die gang stoot. Sy was deurmekaar, maar ons moes vyf ure wag voordat aandag aan haar geskenk is.”
‘n Pasiënt met ‘n gebreekte enkel – wat ná Dopsin in die ry was – is eers gehelp.
Woest sê sy het by ‘n dokter navraag gedoen, wat Dopsin by ‘n saal ingestoot en op ‘n drup geplaas het.
“Die dokters en susters het geweet sy kon nie loop nie, maar hulle het haar net so gelaat. Toe ek die hospitaal die volgende dag bel om te hoor hoe dit met Heather gaan, was hulle nie bewus van haar bestaan nie,” sê Woest.
“Die rede was dat sy nog nie amptelik opgeneem was nie. Toe haar verloofde opdaag, het Heather op ‘n bed onder ‘n kombers gelê.”
Dinsdag, nadat Dopsin reeds ‘n week in die hospitaal was, is haar verloofde ingelig dat haar lewer besig is om in te gee.
Woest sê: “As die hospitaalpersoneel haar daardie Sondag nie so laat wag het nie, sou sy dalk nie so verswak het nie.”
Kalafong-hospitaal se uitvoerende beampte, Mogale Mothoagae, sê die saak sal ondersoek word.
“Ons is verbind tot die voorsiening van gehalte diens en om pasiënte altyd eerste te plaas.”
Dopsin se toestand het teen Vrydag nog nie verbeter nie, sê Woest.
“Ons twyfel of sy haar 40e verjaardag op 2 Junie sal beleef. Heather het nou longontsteking.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
